Wat moet ek leer?
Die vraag by die tienerdiens was of jy al tydens Covid lockdown tyd gemaak het om te hoor wat God vir jou wil se? In die begin was daar baie tyd maar dan gebeur ‘n vreemde ding. Ons leer om aan te pas by ons nuwe normaal. Jy slaap later of oefen oordrewe. Sommige werk harder as ooit. Kort voor lank is jou dag weer vol met alles en nog wat. Die vraag is ‘n wekroep. Amper ‘n dringendheid. Selfs eerder ‘n opdrag: Maak tyd en luister.
Daagliks kom ek met met baie mense in aanraking. Ek sien vrees en bekommernis, dankbaarheid en vreugde. Hartseer en eensaamheid. Ek ken mense wat in hierdie tyd hul werk verloor het en ander wat ‘n geliefde aan die dood afgestaan het. Iemand se kanker het teruggekom en ‘n ander persoon is skoon verklaar. Daar was ‘n miskraam maar ook iemand wat na jare se probeer swanger geraak het. Elkeen met sy eie storie. Almal met sy eie masker. Sommige dinge waarvan ek min verstaan.
Wanneer Jesus in die fliek “The Chosen” vir Mattheus, ‘n tollenaar roep, wil Petrus beswaar maak. Jesus herinner hom dat hy self ook net n visserman was en steur hom min aan Petrus se reaksie…Sy antwoord in die fliek is treffend: “Raak gewoond aan anders wees”. (Get used to difference)
‘n Tollenaar en ‘n visserman skielik onder dieselfde dak. Om met ‘n masker en skerm te werk net so vreemd. Wat is God se idee van anders wees in hierdie tyd?
Waarmee maak ek my lewe vol? Wie laat ek toe in my boot? Waarop rig ek my hoop? Wat doen ek met my kommer en vrees? Wat lees ek en wat versprei ek?
Wanneer ek rondom my kyk sien ek mense met maskers. Elkeen met sy eie storie.
Ek sien mense wat moed verloor het en mense wat honger is. Ek sien ook mense wat ander help en ‘n verskil probeer maak.
Wat wil Jesus vir my se? Hy wat deur my masker sien en alles van my weet? Wat my ook wil leer om anders te dink….
In die storm kom Sy stem: “Wees stil en weet. Ek is die Heer. Ek spreek en wind en golwe bedaar. Ek sal ook jou getrou bewaar….”
Here, ek luister…..