‘n Ander bril
Die storie is aandoenlik. Dis sy verjaarsdag. Hulle laat hom buite op die stoep staan om sy geskenk oop te maak. Hy verstaan nie regtig waarom buite nie maar begin die pakkie oopmaak. Hy eindig by iets wat soos ‘n sonbril lyk. “Sit dit op!”, por hul hom aan. Wanneer hy dit opsit begin sy lyf reageer. Hy raak bewerig, haal die bril af, sit dit weer op. Die trane begin loop. Vir die eerste keer sien hy die wêreld in kleur! Geel rose op die stoep, kleurvolle balonne, die blou lug en groen blare. Hy was sy hele lewe kleurblind!
Om die lewe in kleur te sien…’n voorreg wat ons nie aldag waardeer nie.
Die 32 jarige dame stap moeisaam in. Haar liggaam nog seer van die operasie. Die groeisel was toe kwaadaardig. Sy sug effens. Die onsekerheid is tasbaar en ek sukkel om antwoorde te gee. Ons gesels oor die lewe en haar jong kinders en die feit dat niemand van ons se lewe gewaarborg is nie. ‘n Diagnose laat jou anders dink oor dinge maar uiteindelik is hierdie dag al wat ons het. Daar is geen waarborg dat ek, met my gesondheid, môre nog hier sal wees nie.
Sy stap met ‘n nuwe doelgerigtheid uit die spreekkamer. Om die dag aan te gryp en die ” battle” aan te pak. Sy laat my agter met ‘n nuwe waardering van dit wat ek het. Gesondheid, my gesin en ‘n “vandag”.
Terug by die huis lees ek in die aand al die koerantopskrifte. Ek voel emosies van frustrasies, teleurstelling, woede en moedeloosheid. Ek is moeg van die politiek, van die virus, die ekonomie en slegte nuus. Die storie van die bril en die 32 jarige dame ‘n oomblik vergete. Die lewe met sy donker kleure trek my nader en beklem my hart.
Ek soek my toevlug in Psalm 1. Sommer net. : ” Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie”….ek wonder vir’n oomblik watter opskrifte hom gepla het. Wie die mense was wat hom kwaad gemaak het….. Ek lees verder: “maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind….Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie…..”
Ek sien skielik ‘n prentjie van kleur. Van n boom en waterstrome. Vreugde wat uit ‘n ander bron gebore word. Ons wapen teen slegte nuus en koerantopskrifte.
Soms voel dit of die lewe grys is. Min goed en baie kwaad.
Daar is eintlik net een antwoord. Een bron van Hoop: God se bril, Sy woord.
Mag ons vandag kleure raaksien. Die blomme, blou lug en groen blare.
Ons het net vandag….use it or loose it.