Hardloop met ‘n strategie
Sommige wedlope moet strategies aangepak word. As jy dink dat jy elke wedloop gaan wen deur vinnig en voluit te hardloop maak jy ‘n fout. Soms moet jy die wedloop in seksies opdeel, opdraendes stadiger hardloop en hier en daar stop om jou energie te herlaai. Weer begin, aanhou beweeg. Dit is min of meer die raad wat ek lees in ‘n onlangse hardloop tydskrif. Ek lees dit ‘n paar keer oor want daar is soveel waarheid in veral hoe ons ons eie wedloop van die lewe moet aanpak.
Dikwels verander ons roete en kom daar uitdagings op ons pad. Soms is die berge groot. Ons raak ouer en kinders word groter. Wanneer die roete verander moet ons strategie ook verander. Sommige wedlope vereis meer deursettingsvermoë en dikwels ander denke.
Jare gelede het my broer my pa oortuig om ‘n wedloop saam met hom te gaan hardloop. Sy strategie vir hom was dat as jy 5km kan hardloop jy ook 10 kan doen en as jy 10km kan hardloop jy ook 15 kan doen. Hy het my pa oortuig! Daar was baie humor in die storie. Soos my pa later opgemerk het – al wat hulle “saam” van die wedloop gedoen het was om saam by die beginpunt te staan. Toe die skoot klap het my boetie soos ‘n pyl uit ‘n boog weggetrek terwyl my pa stadig sy eie wedloop begin het.
Hy het 5km gedoen, toe 10 en uiteindelik die 15km soos beplan. Dit was egter nie so eenvoudig nie. Hy vertel graag hoe hy agter gekom het dat die watertafels opgepak word sodra hy by hulle verby is. Later kon hy geen hardloper voor hom sien nie. Op ‘n stadium het hy bewus geword van die wedloopmotor wat agter hom ry. Hy kon op die radio hoor hoedat iemand vertel dat daar reeds 15 hardlopers opgelaai is. Die man in die motor het getuig dat daar nog een hardloper op die pad is…..dit was my pa. Toe hy uiteindelik in die stadion inhardloop het die aankondiger dit uitbasuin: ” And here comes our last runner!”
Later het my pa trots geglimlag dat hy ten minste daardie dag van elke ander hardloper ‘n wenner gemaak het!
Koning Dawid moes ook dikwels sy strategie aanpas. Soms kon hy jubelend in die strate dans maar dikwels was hy vasgekeer en omring deur sy vyande. Van sy mooiste Psalms is juis geskryf waar hy hoop op God se uitkoms. Sy strategie was om daagliks met God te praat. Hy was leerbaar en soekend na God se leiding. Dis egter sy slotgebed in Psalm 19 wat uitstaan wanneer hy vra: ” Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here, my rots en my Verlosser.”
Of ons 5, 10 of 15 km doen is onbelangrik. Of ons eerste of laaste kom is irrelevant. Soms kan ons voluit hardloop maar dikwels raak ons moeg. Die geheim is om aan te hou.
My pa het aangehou. Hy het die uitdaging aanvaar en sonder dat hy dit ooit besef het, ‘n kosbare storie vir eendag se onthou gehardloop.
Terug by vandag se wedloop. Jou berg en my berg is dalk verskillend. Ons strategie mag ook verskil. Tog kan ons deel in Dawid se versoek en dalk die vertrekpunt van elke reis: Mag wat ons sê en wat ons dink op hierdie dag vir Hom aanneemlik wees.