Treklorrie voor die deur

Pak op, pak op. Sit jou goedjies op jou kop. Môre gaan ons weg, ver van hier weg…

Dis die liedjie wat in my kop verskyn toe ek die treklorrie in die pad sien staan. Dieselfde tipe wat ons jare gelede ook gebruik het. Vreemd hoe dit my altyd laat voel. ‘n Mengsel van heimwee met opwinding. Elke oppak sluit immers ‘n hoofstuk af maar dit lei ook tot ‘n nuwe begin. Die lag met die traan….

Met ons eerste treklorrie was ek 11 jaar oud. Ek onthou nou nog die meubels op die gras. ‘n Vreemde gesig. Verwese en uit hulle plek. Ek kon nie dink hoe alles in daai lorrie sou pas nie. Keer op keer was ek verras.

Ons en ons aardse goedjies. Die dinge wat ons oor jare bymekaar maak. Van vroeg tot laat werk en soos die Psalmdigter dit verwoord, om met moeite ‘n bestaan te maak. Later lees ek in die Bybel van die man wat sy store afgebreek het omdat hy te min plek gehad het. Wat groter store gebou het om alles op te gaar. Hy was so opgewonde oor die nuwe stoorplek en het uitgesien na die tyd wat hy agteroor kon sit. Goeie aftreebeplanning sou die makelaar vandag sê. Tog word hy aangespreek as ‘n dwaas omdat hy min wetend dieselfde nag sy lewe sou verloor.

Wanneer die selfdood van ‘n tienermeisie ons ruk is dit haar briefie wat ons tot stilstand bring. Dit maak dat ek met ander oë na my kinders kyk. Te midde van die eksamen wil ek hul vasdruk en opnuut van my liefde verseker….wil ek hul die blomme wys, die blou lug, die voëls wat vlieg….en hul herinner dat die LEWE belangriker is as kos en die liggaam as klere. Ek wil hulle help om verder te kyk, berge uit te klim en hul te laat glo dat hulle kan.

Ons moet so waak om ons lorries nie te vol te probeer maak nie, en ook nie ons kinders se lorries nie. Daar is niks fout met die aanskaf van dinge nie maar as dit die plek inneem van liefde, tyd en lewensgenot raak ons skatte in die hemel dalk heeltemal te min.

Trek is nie altyd lekker nie maar dis ook nie altyd sleg nie. Dis deel van die lewensreis waar ons moet leer om van sommige dinge ontslae te raak en ander dinge aan te skaf. Die lewensreis is belangriker as die grootte van jou store. Skatte in die hemel het meer waarde as skatte in jou huis.

Mag ons voor die einde van 2020 ons store uitsorteer. Mag ons ons prioriteite regkry, ons kindere vasdruk en ons horlosies instel op een dag op n slag.

‘n Stukkie lê hier en ‘n stukkie lê daar. Sê maar so long Skipskop, Skipskop sê goodbye….

Ons hoef nie te leef om te groet nie maar ons moet leer om in die oomblik te leef. Dan kan die treklorrie maar kom en die meubels maar op die gras staan. Dis nie wat ons waarde bepaal nie. Dis bloot dinge wat die lewe gemaklik maak.

Waar jou hart is sal jou skat ook wees. In die hemel is dit veilig.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories