Dis Desember

Toe sy ons groet besef ek dat dit sowaar vakansie is. Desember vakansie, al voel dit nie so nie. Dis ook amper kersfees. Daar is liggies en kersbome in die winkels, maar dit voel ook vreemd. Maskers en te veel covid gevalle bring opnuut onsekerheid. Ons hou asem op vir die feesgety. Is dit sowaar al amper kersfees?

So baie dinge het in hierdie jaar gebeur, of eintlik nie gebeur nie. Dit was die vreemdste onvoorspelbaarste jaar ooit. Ek wonder wat die Here vir my wil sê in hierdie maand? Wat wil Hy van my hê?

My Bybel val oop by Psalm 50…Ek kry ‘n antwoord wat ek nie verwag nie: “Lof is die offer wat jy aan God moet bring…”

‘n Offer kom nie altyd maklik nie. Soms moet jy moeite doen, moet jy uit jou gemakzone beweeg. Nogtans sal ek jubel…Lof en dank vra iets van jou hart. Dit fokus op die grootheid van God en sien die klein dingetjies raak. Die wonder van lofprysing is dat dit na twee kante werk. Terwyl jy God eer gebeur ‘n vreemde ding: Jou laste word ligter en jy kry nuwe krag. Wanneer jy fokus op God se grootheid raak jou probleme inderdaad kleiner.

Kyk ek terug na my eie paadjie hierdie jaar besef ek hoe die Here my gelei het. Ek sien die twee rye spore wat op soveel plekke een geword het. So baie kere het die Here my en my gesin opgetel. Keer op keer gelei na die regte verse. Soms deur ander mense met my gepraat. My beskerm en wysheid gegee wanneer ek dit die nodigste gehad het. Hy het stories in my kop geplaas, die pen laat vloei en klippies van hoop in my eie hart gestrooi.

Vandag kom ek dan om dankie te sê. Vir soveel genade, gesondheid, nuwe krag. Elke sonsopkoms en sonsondergang, elke druppel reën. U sorg vir klein en groot en U sorg dag na dag vir my U kind….

Desember. ‘n Tyd van vakansie, familie en saamkuiers. Covid 19 wat alles deurmekaar wil krap. Psalm 50 se opdrag word gevolg deur ‘n belofte: “Roep my aan in die dag van benoudheid. Ek sal jou uithelp en jy sal my eer” (vers 15)

Terwyl ons asem ophou vir 2021 lees ek verder:

“Die mens wat My eer, is die een wat lof as ‘n offer bring, Hy wat reg lewe, vir Hom sal Ek red.” (Vers 23)

Desember in ‘n ander jaar. Dalk is lof die laaste ding op jou agenda. Vandag wil ek jou uitdaag: Waag dit om alles ‘n oomblik neer te sit en saam met Psalm 118 te sing…

” Dit is die dag wat die Here gemaak het, laat ons daaroor juig en bly wees…U is my God, U wil ek loof; my God, U grootheid wil ek besing….aan U liefde is daar geen einde nie.”

Lof is die offer wat ons vandag aan U wil bring….

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap