Kersfees in ‘n donker nag….
Wie sou kon dink dat die stoel leeg sou wees hierdie kersfees? Dat die huis so stil sou wees? Die kos minder en die werk soveel skaarser. Wie sou kon voorspel dat die vreugde van kersfees so moeilik sou wees om te vind? Die kerke stil en die boom dalk leeg?
In ‘n donker tyd, ver in die veld, verwyder van gerief en geliefdes sit ‘n groepie herders bymekaar. Almal dalk besig met sy eie gedagtes. Miskien selfs met verlange na mense wat hy lanklaas gesien het.
Dis aan hierdie groepie mense wat die Engel verskyn. ‘n Donker nag word verlig met woorde wat ons juis vandag moet hoor: “Moenie bang wees nie….”
Ver verwyderd van die gedruis van ander mense is dit die herders wat die boodskap hoor van die Verlosser wat gebore is.
“En dit is vir julle die teken: Julle sal ‘n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip lê!”
Die ongewone teken van ‘n baba in ‘n krip. Maria wat haar eerstelingseun toedraai in doeke en hom neerlê in die krip, onbewus van die Engel se boodskap in ‘n veld aan ‘n groepie herders.
Dit bring ons by vandag. Ver van die herders en Maria…. en tog ook nie. Die herders kon kies om in die veld te bly sonder dat iets verander. Ons kan ook kies om te bly. Weg te bly van die kersfees boodskap. Omring deur ons eie sorge en gedagtes. Die herders maak ‘n keuse: Om te glo en te gaan kyk. Om die teken te ontdek. Die stukkies van die legkaart pas een vir een bymekaar. ‘n Sensusopname onder keiser Augustus, ‘n besige Betlehem en ‘n hoogswanger vrou sonder ‘n heenkome. Dan die teken van ‘n kind in doeke en herders wat die wonder beleef. God word mens.
Dis by die stal waar ons gekonfronteer word met die teken en ons anders wegstap. Tussen die skape bly alles dieselfde.
Wat verander? Die herders bly steeds herders. Die leë stoel bly leeg, die huis stil en die boom dalk sonder geskenke. Dis die uitkyk op die lewe wat verander. Hoop wat bykom.
Die herders was nie bedoel om by die stal te bly nie. Dit was bloot ‘n bevestiging van die teken wat hul moes beleef. Dit verander die geskiedenisboeke en maak hul die grootste getuies ooit. Dis wat verander.
Kersfees in 2020. ‘n Jaar met min goeie nuus. Dis by die stal, by die leë stoel, stil huis en boom sonder geskenke wat ons dit vandag weer moet hoor: ” Ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die verlosser gebore, Christus die Here!”
Die draaipunt in die geskiedenis. 2020 se beste nuus.
Immanuel. God steeds met ons! Juis wanneer dit donker voel.