Kan jy die sterre tel?
Toe het die Here vir Abram buitentoe laat gaan en vir hom gesê: ” Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan…”
Daardie dag het Abram gekies om te glo, ten spyte van sy ouderdom, ten spyte van sy omstandighede. ” So baie sal jou nageslag wees….” God se belofte in Genesis 15.
Dalk was die nag ekstra donker en die sterrehemel ekstra helder…het Abram klein genoeg gevoel en die Skepper groter as sy wanhoop. Sy baba treë was genoeg om sy twyfel ‘n oomblik te los en net te glo.
Aan die begin van 2021 het die jaar gevoel of ons in ‘n digte mis vasgevang lê. Almal in ‘n oorlewingsstryd met min vooruitsigte. Min wou waag met nuwejaarsvoornemens. Om te bestaan was makliker as om vorentoe te beweeg
Dis met hierdie gedagte waar ek ook opgeroep word na die hemeltuin van sterre, na die branders wat breek en die fynbos in die veld. Om te sien en te beleef. Om opnuut bewus te word van God se grootheid te midde van ‘n verwarde en onsekere tydperk.
Abram se geloofspad het onder die sterrehemel begin. Dit sou lank duur voordat sy nageslag sou uitbrei en sy naam na Abraham verander. Tog het hy dit reggekry om te bly glo.
Ek sien hoe pasiënte desperaat gryp na meer en meer vitamien botteltjies. Ek sien hoe die lag verdwyn en mense sonder emosies agter maskers verskyn. Angstig en hooploos. Baie sukkel om te glo.
Dalk het ons weer nodig om die berge te klim, onder die sterrehemel te staan, om die sonsopkoms te beleef. Om te besef dat maskers en virusse nie vir Hom ‘n bedreiging is nie. Dat ons lewe dalk ingeperk raak maar ons gedagtes vry mag wees. Hoop laat jou verder kyk en geloof maak die onsigbare moontlik.
Ons is nie bloot hier om te bestaan nie, ons werk nie net omdat ons moet leef nie. Ons leef omdat ons ‘n werk het om te doen. Ons bestaan omdat ons ‘n verskil moet maak. Juis in tye soos hierdie.
Abram het onder die sterre geloof gekies. Hy het die vader van baie geword.
Dalk moet ons soos die Psalmdigter van ouds weer op kyk na die berge en leer getuig: “My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.”
Ek dink ons is bedoel om die branders van die lewe te ry. Om verder te kyk. Om te droom, te inspireer en te lewe.
Vir baie voel die corona-tydperk soos ‘n lugleegte tyd. ‘n Jaar waar soveel dinge tot stilstand gekom het Almal smag na ‘n stukkie normaal. Tog het dit die potensiaal om ‘n Godvervulde tydperk te raak. Waar ons klein en nietig voel is daar ‘n God wat groter is as die dinge rondom ons.
Mag ons hoop inskep in 2021 en ons oë weer lag. Mag ons minder gryp na nog ‘n botteltjie en eerder vars lug opsoek. Mag ons ons kommer meer met die Here deel en minder met sosiale media. Mag ons weer glo soos ‘n kind en mag ons weer begin droom.
Kyk op na die hemel en kyk of jy die sterre kan tel…..