Man van êrens
Hy het van nêrens af gekom. Al wat ons van hom geweet het is dat hy ‘n lid van die Joodse raad was, ryk was en in die geheim ‘n volgeling van Jesus.
Dan volg die kruisiging en Josef van Arimatea kom op die toneel. Dis hy wat met gesag by Pontius die liggaam van Jesus kan vra en in ‘n nuwe graf gaan neerlê. Die regte man op die regte tyd.
Ek wonder of hy ook verward en ontnugter was soos die dissipels of het die stil man dalk meer begin verstaan? Wat het gemaak dat hy die moed bymekaar kon kry om nou na Pilatus toe te kon gaan?
Luister ek weer na Jesus se woorde aan die kruis waar hy die mense vergewe, sy hartseer ma eers toevertrou aan Sy vriend en in sy eie pyn en leiding nog die misdadiger kan verseker van sy hemelse tuiste…dan kan ek nie anders as om opnuut bewus te word van Jesus se “andersheid” nie. Die liefde en die groter doel.
Ek dink aan Josef wat op die regte tyd die moed kon kry. Ek dink aan ons wêreld wat op alle hoeke en draaie kan doen met mense van integriteit. Mense in gesagsposisies maar ook mense in alle werksposisies. Mag die kruis ons weer dryf om daar waar dit nodig is op te staan en te doen waarvoor ons bestem is.
Josef was stil maar nie van nêrens nie. Hy was van Arimatea. Die regte man op die regte tyd. Sy naam opgeskryf vir ‘n rede.