God se storie
Ek het beplan om tot by die dam te draf. Op ‘n stadium het ek omgedraai en teruggekyk. Die wolke was pragtig agter die berge. Ek het gevoel dat ek in die verkeerde rigting hardloop en die mooi mis. Na ‘n oomblik se huiwering het ek egter my kop laat sak en verder gedraf. By die dam kon my hond ten minste water drink en swem. Ek het tyd gehad om asem te skep. Die oranje wolke se refleksie in die water was pragtig. Ek was verstom toe ek terugkyk en die groter prentjie raaksien. Dankbaar dat ek uitgehou het tot hier.
Tydens ‘n aanlyn vroue konferensie deel Lindie Strydom ‘n storie wat my raak. ‘n Man het op ‘n dag besluit om oudisies te doen vir ‘n toneelstuk. Hy kon nie goed genoeg sing of dans nie maar kry toe wel ‘n rol waar hy ‘n paar lyne moet sê. Hy moes hard werk om dit te onthou en op die regte tye in te val. ‘n Paar dae voor die toneelstuk sou begin, wou iemand by hom weet waaroor die stuk gaan. Tot sy eie skaamte kon hy dit nie antwoord nie. Hy was so besig om sy eie lyne te leer of agter die verhoog te wag dat hy nie ‘n idee gehad het nie waaroor die toneelstuk eintlik gaan nie. Hy besluit toe om ten minste die teks te lees. Wat ‘n openbaring! Nie net het hy uiteindelik gesien waaroor die storie gaan nie maar hy kon ook sy eie karakter beter verstaan en uitleef. Die redakteur was net so verbaas oor sy nuwe aanslag!
Die storie is waar van ons lewe. Soms werk ons so hard om ons lyne te leer en ons rol te vertolk….as ma, vrou en werkende persoon. Ons weet wat om te sê en waar om in te val maar ons het later geen idee wat die groter storie meer is nie. Ons doen wat ons moet en gaan kruip dan agter die skerms weg.
Hoe gepas dat ek onlangs ‘n fiksie boek oor Rut begin lees. Miskien met ‘n rede. ‘n Moabietiese vrou wat teen al die verwagting deel word van God se storie. Haar naam verewig opgeteken….nie net as ‘n boek in die Bybel nie maar spesifiek in die geslagsregister van Dawid en van Jesus.
Hoe sou Rut ooit kon raai dat sy deel sou word van God se storie? Dat haar moeilike paadjie ‘n goeie einde sou hê?
In ‘n era en tydperk waar baie dinge ook vir ons moelik en onseker voel kan ons so maklik vergeet dat ons eintlik deel is van God se storie. Dat kosblikke pak en huisskoonmaak tussen werk en kinders aflaai, deel is van ‘n groter prentjie.
Miskien moet ons minder antwoorde soek op al die probleme, minder weghardloop en sug en eerder ‘n tree terug gee en God se storie begin raaksien. In en rondom ons. Binne-in hierdie vreemde wêreld.
Die sonsopkoms was pragtig. Ek sou dit in ‘n ander rigting ook kon beleef maar op hierdie oggend het ek die groter prentjie nodig gehad.
Ons is deel van God se storie. Ons kan elke dag ons lyne leer en agter die verhoog gaan wag of ons kan die karakter word wat God vir ons beplan het en werklik ons doel in die lewe vind.
Jou storie in Sy storie vind. Dít is die groter prentjie!