Suurstof

Die melaatse man het by Jesus kom kniel. Ek kon my net voorstel wat die skare se reaksie sou wees. Almal sou waarskynlik op ‘n afstand gebly het, die dissipels sou Jesus wou keer en iemand sou die man wou wegjaag. Jesus het hom jammer gekry en doen ‘n merkwaardige ding. Hy raak aan hom.

In die covid era waarin ons tans leef is aanraking waarskynlik die ding wat mense die meeste mis. Om mekaar drukkies te kan gee of selfs net ‘n handdruk. Om te kan asemhaal sonder moeite raak ‘n voorreg, net genade. Dinge wat ons nog altyd as vanselfsprekend aanvaar het….tot jy of ‘n geliefde in isolasie beland. Suurstof benodig om net te kan praat.

Toe die ou man uiteindelik uit die covid-saal ontslaan word, kry hy ‘n rekening. Dit was ‘n groot bedrag want hy was ‘n paar dae in die hoësorg eenheid en op suurstof. Terwyl hy daarna kyk het die trane oor sy wange begin rol. Die rekeningdame het hom jammer gekry en genoem dat hy dit kan afbetaal. Hy het geglimlag. Die bedrag was nie die probleem nie. Dit was die gedagte dat hy vir soveel jare elke asemteug bloot aanvaar het. Soveel genade. Hoe groot moet sy hemelse rekening nie wees as hy net vir hierdie paar dae so baie skuld nie?

Wanneer ek ook uiteindelik weer in die berge kan stap en die mooi kan beleef voel ek dankbaar. Vir elke asemteug sonder moeite, krag in my bene en sintuie om te kan beleef. Laat alles wat asem haal die Here loof. Die lied kry nuwe betekenis.

Ek dink vandag aan almal wat swaarkry en moeilik asem haal. Wat in vrees lewe omdat hul asemnood beleef het, alleen voel of moes toekyk hoe ‘n geliefde daardie pad gestap het.

Dit troos om te weet dat Jesus kan aanraak waar ons nie kan nie. Hy hoef nie op ‘n afstand te bly nie. Isolasie kan Hom nie keer nie.

Mag almal wat asem het, die Here loof. Ons suurstof is reeds betaal.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories