Hier vir ‘n rede
“Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie…”. ‘n Joodse meisie word koningin. Die skinker kry die begeerte om Jerusalem se mure te herstel. Nehemia word ‘n bouer. In ons eie land lees ons van mense wat hande vat en opstaan te midde van chaos en wanorde. Dis mooi om te sien en dit troos ‘n bietjie. Dit bring egter nie ‘n einde aan die lang rye vir kos en langtermyn gevolge nie. Baie voel moedeloos en gefrustreerd en sou verkies om nie met die oog op tye soos hierdie, hier te wou wees nie.
Wanneer ek te midde van alles in die berge gaan hardloop word ek verras deur fynbos blomme wat enkel en in groepe regop staan en blom. Sommige se koppies is nog toe, ander is groot en helder. Om die draai word ek egter teleurgestel wanneer ek groot bosse sien sonder ‘n enkele blom. Ek voel amper vies vir hulle. Waar die ander met hul pienk koppe die veld versier het, het hierdie bosse net grys en kleurloos gebly.
Ek wonder by myself oor ons rol in tye soos hierdie. As die wêreld oor berge moet loop is óns dalk die blomme op hulle pad. Miskien selfs die enigste stukkie kleur. Wanneer storm- nagte ons grys en vaal laat bly, verloor ons ons impak, raak ons net nog ‘n struik.
Die lewe maak snaakse draaie, soms raak dit soos Josef se pad. Onregverdig, onverstaanbaar en sonder vooruitsig. Prediker vat my terug na die basiese dinge…om jou brood met vreugde te kan eet. Tye kom en gaan. Stadigaan maak ons skatte bymekaar. Sommige waar mot en roes dit gaan verniel of hemelse skatte wat ewig staan. Josef het die toets deurstaan en sy beloning was groot.
Die fynbos inspireer my dat ek moet blom. Dat die wêreld kleur bitter nodig het. Leiers en hul raadgewers het gebede nodig. Die taak is so groot. Mense is honger en die probleme hou nie op nie. “Vra en vir julle sal gegee word, klop en vir julle sal oopgemaak word.” Matteus 7:7. Die hemelse deur is beskikbaar vir ons wat glo. Dieselfde Jesus wat die storm stil maak, nooi ons uit om na Hom te kom met ons probleme, te vra en aan sy deur te klop.
Ons land het mense nodig wat saam kan bid en saam kan bou. Dalk is dit vir daardie rede dat ons hier is…of dalk is daar meer…Dis maklik om in ons land ‘n verskil te kan maak. Dis ook baie makliker om hier ‘n Christen te kan wees. “Geseend is hulle wat weet hoe afhanlik hulle van God is….” Soms gevaarliker in ‘n land waar alles vlot verloop. Ek onthou hoe moeilik dit jare gelede vir my was om in Engeland in die eetsaal te bid….omdat niemand gebid het nie. Hoe min mense Sondae kerk toe gegaan het en dit net ouer mense was wat nog geglo het.
Dalk plaas dit dinge in ‘n ander perspektief. Ek hoef nie noodwendig die kroon te dra of oral te bou nie, ek moet net sorg dat ek saam met Hom bly stap. Waar ek ook al bly, is daar ‘n rede maar dis in die winter waar die fynbos ekstra helder blom. Saam met Jesus kan ons wind en weer trotseer. Hy maak storms stil. Dalk is díe wete vir nou genoeg….Ek kies vandag om te blom. Omdat ek hier is.