Ander se stories

Haar lyf was seer. Sy was ouer as haar jare. Dan noem sy terloops dat sy reeds op 14 in ‘n fabriek begin werk het. Sy glimlag sag as sy praat van haar man wat ‘n ruk gelede dood is en haar kinders wat nou groot is. Sy is hoof van die skoonmakers waar sy nou werk. Die lyne op haar gesig vertel stories wat ek min van weet. Tog het sy vrede oor haar verlede. Eintlik soek sy vandag net ‘n pilletjie vir haar gewrigte.

Die Indiese hokkiekaptein vertel  hoe sy van kleins af ‘n begeerte gehad het om uit haar omstandighede te ontsnap. Sy wou graag hokkie speel maar daar was nie geld daarvoor nie. Uiteindelik het sy ‘n gebreekte hokkiestok gevind en daarmee begin speel. Sy het die afrigter gesmeek om haar ‘n kans te gee. Sy noem hoe maer sy was en dat hul elke dag 500ml melk moes saamvat om by die oefening te drink. Sy kon net die helfte vat en het dit in die geheim verdun met water. Om uiteindelik by die Olimpiese spele te kon deelneem, boonop as kaptein, was soos ‘n sprokie wat waar geword het. Dit kleur die prentjie in en inspireer kinders van haar eie land maar ook ander kinders wat hokkiestokke en geleenthede as vanselfsprekend aanvaar.

In die boek, The boy who never gave up, lees ek die fassinerende verhaal oor die seun van Sudan wat gesmag het na geleerdheid. Wat met baie ompaaie in Suid-Afrika beland en uiteindelik sy skoolloopbaan kon voltooi. Sonder ouers wat hom ondersteun. Hy studeer geneeskunde in Medunsa en spesialiseer selfs verder. Vandag is dr Taban ‘n bekende Pulmonoloog. Ook hy inspireer kinders wat droom om iets te word. Ek salueer hom.

Ek lees die aangrypende stuk van die joernalis uit Soweto, Tshabalira Lebakeng, met die opskrif: God left South Africa….hy skryf van die plek waar hy bly en hoe dit voel of hy uit iets ontsnap as hy na ‘n ander deel van die stad gaan. Vanaand keer hy terug na sy tronk waar kinders steeds in wanhoop leef en wonder of God Afrika verlaat het. Dis hier waar Tshabileng  probeer om ‘n verskil te maak. Dis nodig om ook dít te lees.

Ek wonder oor sy opskrif en al die stories rondom my. Verhale waar ek min van weet. Dan onthou ek hoe lief God die wêreld gehad het dat Hy sy enigste Seun gestuur het…en ek weet dat ek anders moet kyk.

Ek lees in Matteus 14 van Herodus wat Johannes laat doodmaak en hoe sy dissipels dit vir Jesus kom vertel. “Toe Jesus dit hoor het Hy met ‘n skuit daarvandaan weggegaan na ‘n stil plek om alleen te wees” Ek wonder of Jesus daar ook geworstel het met die wreedheid van mense. Ek glo Hy was hartseer. Dalk was dit tyd dat Hy Herodus aanspreek en Sy mag kom wys. “Die mense het Hom gevolg. Toe Hy uit die skuit klim het Hy die groot menigte mense daar gesien. Hy het hulle innig jammer gekry.” Dan maak Hy die siekes gesond en gee die dissipels opdrag om met die 5 brode en 2 vissies tot hul beskikking, vir die mense kos te gee. Hy reageer so anders as wat ons sou dink.

Jesus draai sy rug op Herodes en fokus op die mense. Hulle wat honger is.  Die paradox van geluk pas dalk daarby aan: “We are most joyful when we focus on others, not on ourselves”

Dalk is dit hoekom ek so baie van stories hou en daarin glo dat ons mekaar se stories moet hoor. Om die lyne op mense se gesigte beter te verstaan en met ander hoeke te kan kyk.

Ek glo nie vir ‘n oomblik dat God Afrika verlaat het nie. Hy het gekom vir die wat siek is en die wat ‘n dokter nodig het. Dalk moet ons minder aandag gee aan die Herodusse van die lewe en omdraai na die mense om ons.

Elke ou het ‘n storie…. Mag ons vreugde vind in die uitreik na ander en mekaar se stories hoor.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories