Blomme of sneeu
“Dis onregverdig, hy het dan geen arms nie!” Die man sonder arms se lyf het op en af in die swembad beweeg. Toe sy kop eerste aan die wenkant raak, is ons verstom. ‘n Goue medalje, en dit sonder arms! Die Paralimpiese spele bly ‘n merkwaardige geleentheid. Elke atleet het ‘n storie om te vertel. Een van baie opdraendes en uitdagings, uithou en geloof.
Ek luister gefassineerd na Pieter du Preez se storie. Hoe hy ‘n kwadrupleeg word na ‘n fiets ongeluk en moet aanpas by sy nuwe normaal. Om aan te trek word vir hom ‘n speletjie van tyd. ‘n Mens kan tog nie elke dag 45 minute vat om aan te trek nie, besluit hy. Hy daag homself uit om dit elke keer vinniger te kan regkry totdat hy by ‘n rekord tyd van 7 minute uitkom. Merkwaardig….dit wat ons so as vanselfsprekend aanvaar. Dalk is dit juis daardie motivering wat hom kon laat vasbyt om uiteindelik ‘n goue medalje in Tokia te wen.
In ‘n politieke en mediese era van uitdagings op alle gebiede is die Paralimpiese spele ‘n baken van hoop. Die slagspreuk kon netsowel wees: “Aanhou wen” of “geen uitdaging te groot….” Dit verander die term “disabled” na “superabled”. Hulle motto “Spirit in Motion”, som elke prestasie op.
Kies jy die sneeu of die blomme? Die opskrif in Die Burger tref my nogals. Dis immers ‘n vreemde prentjie om die protea te sien tussen die sneeubedekte berge. Lente in die Kaap! Namakwaland se kleureprag betower, tog is die blomme net vir ‘n rukkie mooi. Amper so kortstondig soos die medalje om jou nek. Dis die sneeu wat die droogte breek en riviere vorm vir later. Miskien som dit juis iets van die lewe op. Daar is ‘n plek vir beide. Sneeu op die berge en blomme in die veld. Die lief en die leed hand aan hand. Dis juis in die kontras van die natuur waarmee ons ons kinders kan bemagtig.
“It is not our job to toughen our children up to face a cruel and heartless world. It’s our job to raise children who will make the world a little less cruel and heartless.” Waar woorde deur LR Knost op ‘n vriendin se facebook. ‘n Bossie blomme om iemand se dag op te helder, ‘n sneeuman as jy die kans kry om dit te bou, ‘n warm koppie sop vir die man op straat.
Die paralimpiese spele is die beste leerskool vir ons kinders. Om te sien dat jy nie perfek hoef te wees om te kan presteer nie, dan wen nie net uit medaljes bestaan nie maar dat niks sonder uitdagings kom nie.
Soms het ons nie ‘n keuse tussen blomme en sneeu, arms of bene nie. Ons het wel ‘n keuse om te probeer. Weer en nog ‘n keer. Ons het ‘n keuse om die wêreld mooier te maak en sagter na mense te kyk.
“The only disability in life is a bad attitude”- Scott Hamilton
Die man sonder arms het geleer om sy bene te gebruik. Sukses word gekoppel aan jou vermoë om die beste te maak van dit wat jy het. Jesus vat ons nie uit die wêreld nie maar Hy belowe dat Hy by ons bly. “Ek is tot alles in staat deur Jesus wat my krag gee…” Ek salueer vandag elke atleet wat ons leer om anders na die lewe te kyk.
Dankie vir sneeu op die berge en blomme in die veld.