Oktober

Dis Oktober. Die mooiste mooiste maand. Dis ook my verjaarsdagmaand. Iemand vra vir my of dit lekker voel om ouer te word? Ek kyk anders daarna. Ek sien ‘n genadepad tot hier. Ek lees boodskappe en koester jarelange vriendskappe. Mooi blomme maak my dag en ek koester die voëltjies wat vroeg reeds sing. Drukkies van my kinders en mooi briefies. ‘n Verjaarsdag bevestig dat jy nog hier is vir ‘n rede. ‘n Nuwe jaar van tweede kanse. Dat jy stadiger hardloop of met ‘n bril moet lees is minder belangrik.

My seun se teksvers uit Jesaja 40 beteken meer as wat hy self besef. “Gras verdor en blomme verwelk maar die woord van ons God bly vir ewig.” Op ‘n manier anker dit my dag. Ek kan baie dinge koester en beplan maar min daarvan het ewigheidswaarde. Blomme is ‘n lekker bederf maar ook dit gaan net ‘n rukkie hou. God se Woord word nie bedreig deur ouderdom nie. Wat ‘n wonderlike wete.

Ek dink aan dominee Paul se boodskap verlede week oor tweede kanse. Hy verwys na drie manne in die Bybel: Simson, Jona en Petrus. Simson die sterke was ‘n Rigter wat al die potensiaal gehad het om ‘n verskil te kon maak, tog het sy lewe tot aan die einde eintlik maar net om homself bly draai. Jona, die profeet, was ‘n man van God met ‘n hart vir die evangelie, maar net waar en wanneer dit hom sou pas. Selfs wanneer hy ‘n tweede kans kry sukkel hy om God se genade vir ander te verstaan. Dan leer ons van Petrus, die visserman wat ‘n dissipel word en drie maal ontken dat hy Jesus ken. Simson, Jona en Petrus. Drie manne met potensiaal, drie manne met passie.

Dis Petrus wat sy tweede kans aangryp. Hy styg uit bo sy foute en word die rots wat Jesus vir Hom beplan het. Simson bly vasgevang in sy selfgerigte wêreld en Jona in sy selfbejammerende denke. Kyk ek rondom my is daar dalk meer Jonas en Simsonne rondom ons as wat ons dink. Petrus leer my van tweede kanse en ‘n verjaarsdag herinner ons juis aan God se genade. Dis ‘n dag om te “pause”, terug te kyk, op te kyk en vorentoe te stap. Jou prioriteite weer in plek te kry en tyd te maak vir dit wat regtig belangrik is.

Die verjaarsdag was goed. Blomme in my huis. ‘n Piet-my-vrou op my drafpad by die stroompie waar ek stop. Wanneer laas het ek dit gehoor? Ek kyk na die berge en ek sing ritmies verder: “Ek hoor hoe fluister grasse, stroom en wind. U sorg vir klein vir groot vir alles en U sorg dag na dag vir my U kind.”

Terwyl ek vroeg na die voëltjies lê en luister voel ek geseend. Ek is dankbaar vir nog ‘n jaar. Die skemer-uur liedjie kom in my kop en help my met die eerste tree: “‘n Bietjie meer tyd om Hom te loof, te groei in my geloof. ‘n Bietjie meer tyd om Sy liefde vir my te deel en te bely….”

Tweede kanse. Blomme verwelk maar Sy woord bly staan. Die vertrekpunt van ‘n nuwe lewensjaar: Om God se hand opnuut te gryp. Oktober, die mooiste mooiste maand.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories