Psalm 25
Wanneer my hond te ver vooruit wil hardloop, fluit ek vir haar. Dan draai sy terug om naby my te kom. Wanneer sy in die verkeerde rigting hardloop of die verkeerde pad kies, fluit ek weer vir haar. Dadelik weet sy dan dat sy moet omdraai en die ander pad moet kies.
‘n Hele paar jaar gelede het my seun weggeraak by ‘n groot rugby byeenkoms. Gelukkig het hy daardie dag sy rooi pet opgehad. Daar was baie mense en ek het nie geweet waar om hom te begin soek nie. In die verte het ek uiteindelik ‘n rooi pet gewaar. Hy was te ver dat ek vir hom kon roep. Ek het vir hom gefluit. Ek kon sien dat hy stop om te luister. Ek het weer gefluit. Later het die traangesiggie vertel dat die mooiste geluid was wat sy seuntjiehart kon hoor. Al kon hy my nie sien nie, het hy geweet ek was naby. Hy het my fluit herken!
Wanneer die boervrou op die radio getuig oor hul projek in die droë gebied, wonder iemand of hulle nog bid vir reën. Haar antwoord raak my: “Nee, ons bid nie meer vir reën nie, maar vir God se voorsienigheid.” “Ons kyk ook nie meer na die weervoorspelling nie want dan word ons moedeloos.” Hulle het geleer om na God te kyk. Hul hoop op Hom te vestig. Sy praat met gesag en getuig van die wonderwerke wat op soveel ander maniere gebeur.
Aan die vooraand van die laaste kwartaal besef ek hoe nodig dit is dat ek naby Hom moet bly. Sodat ek Sy stem kan hoor. Dawid besef dit ook wanneer hy in Psalm 25 vra: “Maak my U wil bekend, Here, leer my U paaie. “
Ek dink aan die boervroue wat geleer het om hul oë op die Here te hou. Dawid weet hoekom wanneer hy verder getuig: “Dis Hy wat my voete uit die vangnet sal hou.” Ek wonder ‘n oomblik wat die vangnette is. Dalk die dinge wat ons bekommer, wat ons aftrek, of ons hoop wil steel. ‘n Mens sou dink dat jy op die grond moet kyk om die vangnette raak te sien. Dawid leer ons om op te kyk.
Daar is ‘n tyd om vir reën te bid, vir genesing en vir dinge wat belangrik is….maar soms moet ons eenvoudig ons sorge vir Hom gee en glo in Sy voorsienigheid. Ongeag.
“Ek wil naby aan U bly, soos ‘n kind op sy vader se skoot. Ek wil naby aan U bly…dit is die plek waar ek hoor….” Die lied verskyn in my kop.
My hond ken my fluit. Vir my seuntjie was dit die mooiste klank. Mag ons die Here se stem hoor en naby aan Hom bly…
“As iemand die Here dien, leer Hy hom watter pad om te kies.”..Psalm 25: 12