Voete was

My seer oog bring my tot stilstand. Ek vermy die wind en weer en bly weg van die drafpad.  Ek kan ook nie lekker lees nie en dit frustreer my. My gestel voel af. Dalk is hierdie oog die Here se manier om my bietjie te laat pause… Dan onthou ek van die geskenkbewys wat al ‘n jaar in my kas lê. Vir my voete. Ek gryp die oomblik aan.

By die Spa verkyk ek my aan die mooi jong meisie. Ek voel amper sleg dat sy my voete moet was en skuur en wonder vir ‘n oomblik wat die ergste is: Om in iemand se mond te werk of met iemand se voete. Sy lyk ontspanne terwyl sy my kuite masseer. Ek maak my oë toe en dink aan Jesus wat ook Sy dissipels se voete gewas het. Net so ‘n vreemde gedagte. Voete was, deel van Jesus se opdrag.

Een van ons predikante vertel hoe die nagsuster elke aand aan sy voete kom vat het terwyl hy in die covid saal gelê het. Hy het gewonder of daar ‘n mediese rede daarvoor was. Later het sy vertel dat dit die tyd was wat sy vir hom gebid het. Hy noem haar sy nag-engel. Amper ironies dat die voete waarskynlik die veiligste plek tydens covid was om aan te raak.

Ek dink aan ons deurmekaar wêreld waar almal kwaad voel en vuiste wil bal teen alles en nog wat. So baie menings en opinies, selfs tussen Christene. Beskuldigings van liefdeloosheid vlieg heen en weer. Mense kry seer en ander kyk met bitterheid na die kerk. Psalm 34 wys vir my ‘n ander rigting: “Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na!”

Terwyl my toonnaels mooi geverf word wonder ek of die sleutel nie juis by ons voete lê nie… Ek wonder of die jong meisie weet hoe belangrik haar werk is. Sy is besig om instrumente van vrede te versorg. Die tannie oorkant my sug behaaglik en die ander vrou verdiep haar in haar boek. Ook ek sit agteroor. Dankbaar vir hierdie bederf.

Soek vrede en jaag dit na. Die opdrag is duidelik. Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is. “Reik uit na net een mens…” ‘n artikel in die koerant wat my oog vang. Lekker om te lees….

Paulus moedig ons aan om die evangelie van vrede aan ons voete aan te trek…deel van ons wapenrusting.

My oog is steeds rooi maar my voete voel goed. Vrede. Om te soek en na te jaag. God se opdrag juis in tye soos nou. ‘n Pedicure vir ‘n ander rede!

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories