Kyk na die lelies

Wat sou ek doen as ek meer geld gehad het? Ek speel met die vraag na aanleiding van ‘n gesprek op die radio. Ek glimlag as ek aan my deurmekaar huis dink. Ek sou elke dag ‘n huishulp gehad het…maar dan sou my kinders dalk nie geleer het dat hul self dinge moet doen nie. Miskien sou ons meer gaan uiteet, maar dan sou ons dalk minder saamwees om die huistafel beleef het en sou uiteet miskien sy bederf verloor het. Ek sou eksotiese plekke besoek het maar die fynbos rondom my gemis het. Meer oorsese besoeke sou my kinders ervare reisigers gemaak het maar die opgewondenheid getem het. Ekstra lesse sou hul dalk meer wedstryde laat wen het maar tyd vir teken en kindwees sou verlore gaan. Ek sou self weer tennislesse wou neem, meer tyd in die berge deurbring, minder werk en meer tee drink saam met vriendinne. Dalk sou ek dan nooit begin skryf het nie en min van die lief en leed van ander kon beleef.

Op my drafpad kies ek ‘n ander paadjie. Ek het lanklaas in die berg gehardloop en ‘n nuwe bankie laat my stop. My moeë bene gaan sit gewillig. Die woorde op die bankie raak my hart: “Its not what you look at that matters but what you see.” Die bankie het ‘n pragtige uitsig oor die see. Dis wat ons raaksien in die lewe wat waarde toevoeg. Verder af in die paadjie stop ek by ‘n helder pers blom. God se lelie, wat nie swoeg nie en nie klere maak nie, wat mooier is as Salomo se prag. My siel word bevredig deur dit wat ek beleef.

By die werk moet ek die oproep maak. Dis nie goeie nuus nie en die eerste afspraak is eers Maart volgende jaar. Ek belowe haar dat ons ‘n ander plan gaan maak. Tien minute voor die kliniek in die groot hospitaal toemaak probeer ek self bel. Gewoonlik nie ‘n goeie tyd om te probeer nie. Dis oppak tyd. ‘n Suster antwoord. Sy luister geduldig. Bly ‘n oomblik stil. Ek hoor hoe sy in haar boek blaai. Die eerste afspraak is eintlik eers Februarie volgende jaar maar sy gaan haar Maandag indruk. Ek sug verlig. Dankie Here!

By die huis begroet twee opgewonde dogtertjies my. Hul name is altwee gelees. Ek is dankbaar dat ek nie vandag een moet troos en saggies bly moet wees vir die ander een nie. Tog ken ons die ander kant van die muntstuk goed. Die teleurstelling as jou naam nie gelees word nie. Die wete dat jou identiteit nie moet afhang van prestasie of ‘n balkie nie, is waar vir albei kante. Daar is genade in geleenthede. Dis nie waarna jy kyk wat tel nie, maar wat jy sien.

Pers blomme op my pad was ‘n hoogtepunt, ‘n vroeë afspraak by ‘n kliniek ‘n wonderwerk. Twee glinsterende paar ogies ‘n stukkie bederf en ‘n geleentheid om ‘n verskil te maak.

Dankie Here dat U vir my sorg. Dat ek nie te veel het nie maar ook nie te min nie. Ek het genoeg.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories