Kersfees in die ry
Die kersboom is uitgehaal en liggies word opgehang. Mense skarrel rond vir geskenke. Huise word vol van geliefdse van ver, as jy een van die gelukkiges is. Op oukersaand word die Lukas evangelie oopgemaak en die verhaal van Jesus se geboorte word afgestof.
Hierdie jaar maak kersfees eers ‘n ander draai. By die plek waar jy jou lisensies hernu.
Die ry was lank. Nie juis ‘n dag van plesier nie. ‘n Paar plekke agter hom het Jaco gestaan. Wanneer jy lank staan begin jy mense se name ken. Jaco bly op straat. Sy gesig vertel ‘n verhaal van baie son. Hy staan in die ry in mense se plek en verdien so ‘n geldjie. Hy ken Jesus. Werk op ‘n Sondag by ‘n kerk waar hy karre oppas. Vertel trots dat hy graag by een venster staan. Daar kan hy die boodskap mooi hoor om in die week vir sy straatvriende te vertel. Hy grawe diep in sy sak om sy toffies met almal te deel. Kersfees in die ry.
Naby die boom waar haar seun verongeluk het herken sy een van die manne by die robot. Gabriel is sy naam. In haar hart stoei sy amper verwytend met die Here hoekom hy nie eerder hierdie man gevat het nie. ‘n Paar dae later staan sy weer by haar seun se boom. Skielik kom dieselfde Gabriel aangestap. Soek seker geld, dink sy geirriteerd. Hy vra niks. Kyk na die foto teen die boom en vra of dit haar seun is. Sy knik. “Ek pas die boom vir jou op.” Sy antwoord verras haar. Haar hart klop warmer. Kersfees onder ‘n boom.
Wanneer Jesus die man se hand gesond maak op die Sabbatdag raak hy hartseer oor die fariseërs se hardheid. Hul onvermoë om deur Sy oë te kan kyk. Hy raak aan melaatses en eet saam met tollenaars. God met ons. Kersfees om ‘n etenstafel.
Soms soek ons Hom in die doeke by die krip, in die oop veld naby die herders en tussen die wyse manne se geskenke. Soms vind ons Hom aan die etenstafel en in ons kerke. Dikwels is Hy egter daar waar ons Hom die minste verwag. Op straat, onder ‘n boom, tussen die swakkes en die wat stukkend is.
Waar daar liefde is en deernis, daar is Ek….
Kersfees. Stille nag, heilige nag. Jesuskind, lank verwag. Lig uit lig uit die Vader se ryk. Word uit liefde aan mense gelyk.
Ek bring vir julle die goeie tyding, die Verlosser is gebore.
God kom met ‘n ongewone plan op ‘n ongewone manier met ‘n boodskap wat ons sukkel om te verstaan. Hy herinner my daaraan wanneer ek ongeduldig vir my lisensie staan en wag. Hy stuur Jaco’s en Gabriels op ons pad.
“Ek is nader as wat jy dink. Nie net in die stal nie maar ook in die lang ry, by die verkeerslig, onder die boom. Langs jou. Immanuel, God met ons….tot aan die voleinding van die wêreld.” Sy belofte.
Welkom o stille nag van vrede, onder die Suiderkruis. Nie net ‘n storie nie. God is hier. Kersfees in die ry. Kersfees in my huis. Met of sonder n kersboom.