Dink nuut en waag om te probeer

“Ek kan skaars ‘n kilometer hardloop.”

Ek was oortuig dat hy verder kon draf en het hom genooi om net ‘n entjie saam met ons te probeer. Ons het rustig begin en soos altyd oor alles en nog wat gesels. Dalk was dit die pas, die geselskap of dalk die feit dat hy die afgelope tyd heelwat langer geword het, maar toe hy weer sien, het hy 5 km gehardloop! Hy kon sy oë nie glo nie.

Twee dae later het ons ‘n 8km roete aangepak. Hy het weer saam begin en sou halfpad terugdraai. Tot sy verbasing het hy die hele pad gemaklik gehardloop en die afstand saam met ons voltooi. Drie dae later leen hy my horlosie. Ek kry ‘n foto by die werk. Hy het 10km op sy eie gedoen en boonop my rekord verpletter. Die gogga het gebyt.

Dis nie elke persoon wat in ‘n week by 10km kan uitkom nie en dis ook nie vir almal bedoel nie. Tog het dit my laat wonder hoeveel mense met potensiaal rondloop wat hul nooit bereik nie. Dalk ondat hul een keer probeer het en toe misluk het. Miskien nie glo dat hul iets kan doen nie of bloot omdat hulle nie geleenthede aangegryp het nie.

Met die aanbreek van die nuwe jaar het ek gewonder wat 1 Januarie anders maak as 31 Desember. Jy is steeds dieselfde persoon en jou situasie waarskynlik ook. Die enigste ding wat verander is die datum en jou uitkyk. Die sleutel lê in jou denke. Jou situasie verander immers nie oornag nie maar hoe jy daaroor dink kan die uitkoms verander. Romeine 12 moedig ons aan: “Mag God julle verander deur julle denke te vernuwe….” die vertrekpunt van elke nuwe seisoen, dalk selfs van elke nuwe dag.

Op die tweede Januarie het ek vroeg die oggend ‘n kort entjie gaan hardloop. Die son het ‘n goue rand agter die wolke gemaak en ek het my verkyk aan die mooi toneel. Ek het gewens dat ek ‘n kamera gehad het om dit af te neem. Al wat ek kon doen was om die oomblik vas te vang met my oog se lens. Gelukkig altyd beskikbaar as jy bereid is om te stop en te kyk. Ek kon nie help om te dink dat ons aan die einde van 2022 ook gaan terug kyk na baie oomblikke wat ons dalk gewens het ons met ‘n kamera kon vasvang, maar net met die oog beleef het. Ek het ook aan my seun gedink wat ontdek het dat hy kan hardloop. Wat uit sy gemaksone beweeg het en bereid was om sy tekkies aan te trek en te begin.

Die jaar lê voor ons. Binne-in elke persoon is daar potensiaal wat wag om uit te kom. Daar wag geleenthede, sonsopkomste en mooi sonsondergange. Die vraag is of jy geleenthede gaan aangryp, bereid gaan wees om te probeer, gaan toelaat om anders te dink, jou kamera uit te haal vir ‘n oomblik of twee maar veral of jy die oomblik sal beleef.

Sy genade is nuut elke môre. Mag ons bereid wees om ons tekkies aan te trek en iets nuuts te probeer. Mag ons stil word en toelaat dat Hy ons denke vernuwe. “Dan sal ons ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” Romeine 12 se uitkoms.

Dat ‘n mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit is ‘n gawe van God. (Prediker 3:13)

Carpe Diem – gryp die dag. Verander jou denke, sien die mooi oomblikke raak en maak die beste van elke geleentheid. Wie weet, dalk hardloop jy ook binnekort jou eerste wedloop.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap