Klim vir die uitsig

“Don’t climb mountains so that people can see you. Climb mountains so that you can see the world.”

Met die matriekuitslae agter die rug, tref die woorde my. Dis wonderlik wanneer harde werk beloon word met onderskeidings maar dis die klim na geleenthede waaroor dit eintlik gaan. Elke ou se paadjie lyk immers anders maar harde werk is die sleutel tot baie deure en beslis belangriker as ‘n foto in die koerant.

Kolossense 3 pas daarby aan en kleur die prentjie verder in. “Moenie net werk om deur mense raakgesien te word en so in mense se guns te kom nie, maar werk met ‘n opregte hart uit eerbied vir die Here. Wat julle ookal doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat Hy belowe het…”

Wanneer my jongste oor twee hekkies struikel tydens ‘n tennistoernooi is daar net 1 oplossing: Opstaan en weer probeer. Verder kyk. Bergklim is ‘n groeiproses. Treetjie vir treetjie kom jy bo. Soms moet jy stop vir ‘n slukkie water, ander kere net ‘n bietjie rus. Soms moet jy vashou om nie te gly nie. Ander kere stap jy maklik oor die klippe. Die geheim is om op te kyk en aan te hou. In jouself te bly glo.

Jesaja 40 herinner my aan die Here se grootheid en Sy nabyheid. Skepper van die hele aarde wat vermoeides krag gee en díe versterk wat nie meer kan nie. “Selfs jongmanne raak moeg….struikel en val, maar die wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie…”

Wanneer ons net werk om deur mense raakgesien te word, word ons uiteindelik teleurgestel. As ons net berge klim sodat ander ons kan sien, raak die opdraende later te swaar. Dis wanneer ons saam met Jesus begin stap dat ons dit tree vir tree kan reg kry. Met die doel om by Sy bestemming vir ons uit te kom.

“Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.” Josua 1:9

“Climb mountains so that you can see the world.” Ons klim nie omdat ons bang is om onder te bly nie maar omdat ons met ‘n verwagting uitsien na die uitsig van bo!

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap