Bedoel om te sweef

Hy het homself in die vliegtuig se wiel bagasieruim versteek. ‘n Desperate man. Al die pad van Nairobi tot Amsterdam. Het hy geweet hoe koud Europa nou is? Het hy kon dink hoe moeilik dit sou wees om asem te haal? Wat het hom gedryf? Wonder bo wonder het hy die vlug oorleef. My hart gaan uit na hom en soveel ander…

In die week help ek my oudste in haar Universiteitskoshuis intrek. Ek is bly dat sy self wil vlieg en nie uit die huis uit wil vlug nie. Sy is opgewonde oor nuwe vriende en geleenthede wat wag. Vir ons gesin breek ‘n nuwe hoofstuk aan.

Die studentedominee gebruik die beeld van ‘n sweefakrobaat. Ons studente het die stokkie gelos en is besig om te begin sweef. In die akrobate teater is die grootste kuns nie om die stokkie te los nie maar eerder wie die arms vang. Die kerk is soms ‘n vangnet maar dis die Here wat ons vasvat wanneer ons val. Ek bid dat sy naby Hom sal bly. Haar oog op Jesus.

Die jaar het besig begin. Ons hardloop en skarrel rond en die beursies loop vinnig leeg. Jy sien hoe jou kinders vlieg maar soms is dit jy wat wil vlug. Te besig, te veel dinge.

Arme Petrus en die ander dissipels is ook moeg en raak ontydig aan die slaap. Waak en bid, is Jesus se versoek. Hy weet immers dat die gees gewillig is maar die vlees swak. Jesaja help ons met die woorde: “Ek is jou God, ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red ek jou….”

Bly waak en bid… Raad vir myself maar ook vir my kinders wanneer die lewe besig raak. Ek skep nuwe moed terwyl ek skryf.

“Maar die wat op die Here vertrou kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgevat nie. ..”

Wanneer ons moeg raak sukkel ons om te wees wat ons moet wees. Die Gees van die Here maak ons nie lafhartig nie maar vul ons met krag liefde en selfbeheersing. Drie dinge wat verlore gaan as moegheid intree. Dis by die Here waar ons krag vandaan kom. Ons kry dit wanneer ons tyd maak om by Sy voete te gaan sit. Die antwoord in ons besige lewens.

Mag ons vandag sweef met vertroue dat Sy arms ons sal vang. Mag hulle wat voel om te vlug by Hom ‘n tuiste vind. Hy gee nuwe krag: “Kom na My toe…almal wat moeg en oorlaai is.” Sy uitnodiging.

Ons is bedoel om te sweef, nie om te vlug nie. Dankie tog.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories