Wow. Ons lewe
Wow, kyk mamma! Ek het gekyk. Die wolke was pragtig met wit strepe. “Nie die wolke nie, mamma!” Ek het laer gekyk. Die berge was net so mooi. “Nee mamma! Die kar wat nou net hier langs ons gery het!” Ons kon nie help om te lag nie. Volgende keer moet sy maar vinniger spesifiseer, het ek voorgestel. Karre was nog nooit hoog op my prioriteitslysie nie.
In die week swik ek weer my enkel. Die soveelste draf-besering oor die laaste twee jaar. Dis of van te huil. Net toe ek uiteindelik gevoel het of ek lekker begin hardloop. Ek kyk met verlangende oë na die berge. Gaan ek ooit weer soos ‘n ribbok kan hardloop? My vriendin leer my die dankbaarheidsgedagte: Ek vat dit en is dankbaar dat ek ten minste nog kan stap. Dan hoor ek dat die inspirerende jong vrou Nightbirde, wat op America’ got talent, It’s Ok gesing het, haar stryd teen kanker verloor het. Dit maak my hartseer. Van haar laaste woorde gaan oor “grief ” en dat dit ok is om soms hartseer te mag wees. Dat dit nie beteken dat jy ophou baklei nie maar eerder hoeveel dinge vir jou beteken het.
Die lied van Laura Story praat al lank met my: 'Cause what if your blessings come through raindrops
What if Your healing comes through tears
What if a thousand sleepless nights are what it takes to know You're near
What if trials of this life are Your mercies in disguise.
Op ‘n manier is dit waar. Dis in ons stryd met dinge dat ons anders oor die lewe moet dink. Maniere moet kry om op te staan en aan te gaan. ‘n Keuse moet maak of ons nader of verder aan die Skepper gaan beweeg. Die twee Maria’s in die evangelie inspireer my. Dis hulle wat op ‘n afstand staan en kyk na die kruis, Jesus se smart beleef en Sy dood moet verwerk. Hulle is daar wanneer Josef van Arimatea Hom in die graf neerlê en ook aktief gereed met olie om Sy liggaam die volgende dag te balsem. Vroue in aksie terwyl die dissipels in rou gedompel bly. Hoe wonderlik as trane jou terugbring na die graf en jy die wonder ontdek dat dit leeg is!
Ek gee my voete dus oor aan die Here. Hy wat my begeertes ken om weer soos ‘n ribbok te kan hardloop, al weet ek dis eintlik ‘n klein probleem. Ek soek steeds die wolke en verkyk my aan die berge maar leer om ook dinge deur my kinders se oë raak te sien.
What if my greatest disappointments
Or the aching of this life
Is the revealing of a greater thirst this world can't satisfy
What if trials of this life
The rain, the storms, the hardest nights
Are your mercies in disguise
Ek verstaan nie baie van al die seerkry en teleurstellings waardeur baie mense gaan nie maar as ek kyk na Jane Marczewski kan ek nie anders as om ‘n stukkie van God se reënboog in haar storm te sien nie. Maria Magdalena het ook ten spyte van haar trane by ‘n oop graf gekom. Ons het die voorreg om op te kyk en wit wolke en mooi berge te sien ongeag of ons voete daar kan hardloop….en so nou en dan is daar mooi karre wat jou laat lag en ander laat uitroep: Wow! Ja. Wow omdat ons lewe.