‘n Hand van agter
Die bondel fietsryers het my oog gevang. Hulle was besig om bult op te ry. Voorlangs het ‘n groot man getrap. Die man langs hom het hom met die een hand van agter bly stoot. Dit was eintlik ‘n mooi prentjie. Ek het verby gery en in my truspieëltjie na hom gekyk. Ek kon sien hoe hy sweet en hard werk om bo te kom. Te danke aan sy vriend kon hy by die groep bly.
Die hand op die rug het my ver paaie laat terugloop na my hoërskooldae. Toe ons ook skool toe en terug met die fiets gery het. Net voor die huis was daar ‘n lastige bult. Menige kere was ek besig om op te beur tot ek skielik ‘n hand after op my rug voel. My ouboet. Ek glimlag as ek daaraan dink. Sy krag het ‘n groot verskil aan my dag gemaak en die pad huis toe baie makliker laat word.
Terug by my omgewing is dit die pragtige Helderberg wat ek gereeld uithardloop of sommer net opstap. Die pad maak draaie en kronkels terwyl jy op beweeg. Daar is min genade om bo te kom. Dis uithou en aanhou. Terwyl ek dit eendag saam met my kinders stap begin ons praat in die rigting van wie jou stoot en wat jou trek in die lewe. ‘n Ma stoot haar kinders vir ‘n tydperk om bo te kom maar op ‘n dag moet elkeen ontdek wat hom trek. Doelwitte of dinge wat jy wil bereik. Wat jou laat aanhou as jy moeg raak of die pad te steil word. Die meeste berge wat my kinders al uitgeklim het was omdat hul ma dit wou doen. Gelukkig was die padkos en roomysbelofte van na die tyd goeie motivering om hul bo te kry….Tog was die uitsig en besef dat hul die onmoontlike kon bereik van groter waarde as wat hul ooit sou besef. Deesdae stap hul vooruit en geniet dit om vir ons te wag.
Ek kom terug na my eie vraag. Wat stoot my en wat trek my? Dink ek aan die berge is dit my begeerte om bo te kom wat my stoot en die uitsig wat my trek. Op die lewenspaadjie is dit soms moeiliker. Almal raak moeg. Soms het jy goeie vriende op die regte tyd nodig. Die regte woord, ‘n stukkie omgee. God se woord, stilwordtyd. Dinge wat jou in die regte rigting druk. En as jy moeg word? Dalk Jesus se bemoediging dat Hy die wêreld reeds oorwin het. Dat niks ons kan skei van Sy liefde nie. Uithou en aanhou…
Met die wêreld op sy kop en die lewe deurmekaar is dit dalk nodig om opnuut ons doelwitte naby die kruis te sit. Soek allereers die koninkryk van God oomblikke. Dalk plaas die oorlog in Ukraïene dinge in ‘n ander perspektief. Wat ‘n voorreg as ons ons kinders kan stoot waar nodig en nog saam met hul berge kan klim. Tog bly dit belangriker as ooit dat hul Jesus leer ken.
Mag ons vandag ‘n hand uitreik waar ons ander kan help maar mag daar ook vriende en familie naby wees wanneer die opdraende selfs vir ons te steil word.
‘n Hand van agter het die groot man laat byhou. “Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie. Daar is geen einde aan Sy ontferming nie.” Die rede waarom ons bly hoop.
Dís wat my trek.