Stop die wêreld

Hy het ‘n foto van homself en sy seun gewys na hul die fietstoer voltooi het. Gelukwense het ingestroom. Dan die ontoepaslike kommentaar: “Ry liewers met jul fietse na Rusland se ambassade en stop die oorlog!” Ek voel jammer vir die pa wat net ‘n mooi oomblik wou deel, maar ek besef ook dat die man in Ukraïne se wêreld uitmekaar geval het. Hoe kan iemand fietsry en die mooi geniet terwyl ‘n ander land op dieselfde tyd vernietig word?  Eintlik spreek dit ‘n universele probleem aan. So lank jy nie binne-in ‘n situasie is nie, bly dit ver van jou. Ry mense fiets en ander draf terwyl sommiges vlug. Die lewe met sy lief en leed.

“Stop die wêreld, ek het seergekry!”, roep die lied van destyds dit uit. Op die nuuskanaal hoor ek van die vrou wat in Pole aangekom het met haar 3 dae oue baba. Sy moes haar man en oudste seun agter los sonder dat sy weet of sy hulle weer gaan sien. Hoe uiters traumaties. Drie dae na jy gekraam het stap jy in die yskoue met  ‘n pasgebore baba sonder dat jy weet waar jy gaan bly of waar jy kos vandaan gaan kry. Baba’s word in oorloë gebore. Die wêreld stop nie.

“Lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose…” Die tema van ons kerk hierdie week. Ek dink lank oor hierdie sin. Dominee Deon help ons om te verstaan dat die versoeking waarvan Jesus praat, nie die groot sondes is waaraan ons gewoonlik dink nie, maar eerder dinge of situasies wat daartoe lei dat ons ons rug op Jesus draai. Soms is dit voorspoed en ander kere teespoed. Jy raak of so gemaklik in jou zone dat jy Jesus nie meer nodig het nie, of dit gaan so sleg dat jy jou geloof verloor.

Waar pas dit in by Rusland, die Ukraïne, Suid-Afrika en die res van die wêreld? Waar is die Here, wil baie weet. Verlos ons van die Bose is die angskrete wat baie roep. Stop die bomme. Ons wil almal net leef.

Wanneer Jesus vir sy dissipels bid is dit nie dat hulle uit die wêreld gehaal moet word nie, maar dis Sy gebed dat hulle van die bose bewaar sal word. Die grootste gebed vir my kinders is dat niks hul uit Sy hand sal laat gaan nie. Nie voorspoed nie en ook nie teespoed nie. Die bose steel wat nie aan hom behoort nie. Hy roof ons van ons vrede en geloof. Hy plaas ons op die troon van gerief en trek ons ongemerk verder weg van die koninkryk. Hy saai onmin en wanhoop en laat ons twyfel aan God se goedheid of selfs Sy bestaan.

Wanneer ek lees van die Suid-Afrikaanse sendeling in die Ukraïene wat gekies het om terug te gaan en tans kospakkies uitdeel aan mense by die grenspos, sien ek ‘n ander tipe vrede. Ek sien hoe mense saambid en ek hoor van wonderwerke te midde van grusame tonele. Ek sien liggies wat brand in die donker.

Niks kan ons skei van die liefde van die Here nie. Die wêreld stop nie want ons het ‘n God wat ons hand vashou. Wat jou toelaat om fiets te ry in Afrika maar ook om om te gee vir mense ver van hier. Hy laat die son opkom en Hy laat dit sak. Hy maak die nag altyd weer dag.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories