Carpe Diem
Carpe Diem, was sy boodskap aan die seuns. Hy het hulle na die voorportaal van die skool geneem en die fotos van vorige jare se seunsgroepe gewys. Seuns wat in die fleur van hul lewe was, net soos hulle nou. Baie reeds oud of selfs al dood. Die lewe is nou. Gebruik jou kanse, leef jou drome. Later in die klas het hy bo-op sy lessenaar gaan staan. Die seuns se monde het oopgehang. Soms moet jy uit ‘n ander hoek na die lewe kyk, wou hy hul leer. Dead Poet Society. Wat ‘n kragtige film.
Die Engelse onderwyser haak nie vas by ‘n handboek en reëls oor gedigte en strofes nie. Hy leer hul dat elke persoon sy eie ritme het. Dat poësie lewensstories is en dat elkeen van ons besig is om ‘n versie by te skryf.
Die kort vakansie word ‘n noodsaaklike rusvakansie vir my kinders na ‘n bedrywige kwartaal. Ek beplan niks. Ons neem boeke uit en ek moedig hul aan om tyd te maak vir lees…’n moeilike opdrag vir my besige bytjies. Tog sien ek stadigaan hoe die kleur terug beweeg na die wange. Dan kry ons die oproep of die tweetjies asseblief hul tennisrakette die naweek kan saambring. My niggie se seun kuier by sy ouma. Hul gesigte verhelder en ek verkyk my later aan die drie op die baan. Daar is geen druk, net vreugde. Dis “op die bank staan” oomblikke…die groter prentjie agter alles. Familiebande wat gesmee word het meer waarde as nog ‘n toernooi. Wat ‘n voorreg as jy met ‘n neef uit George onverwags kan tennis speel. Sommer net. Omdat jy kan.
Wanneer ek later die gebrande berg uitloop, breek my hart om die skade te sien. Een veldbrand te veel. Dis swart en kaal. Tog is daar oral groen grassies wat uitspruit en enkele lelies wat die veld versier. Die klippe is los en daar is min vashou plek. In my stiltetyd is ek besig met die Johannes evangelie. Ek lees dat Jesus nie gekom het om die wêreld te veroordeel nie maar om te red. Ek sien iets daarvan terwyl ek rondom my kyk. Hy vra nie wie die veldbrand veroorsaak het nie. Hy kyk nie vas teen die swart verbrande veld nie. Hy stuur reën, groen gras en pienk blomme. Nuwe lewe. Van ver af lyk alles boos, maar as jy dit waag om uit ‘n ander hoek te kyk, sien jy Jesus se groot liefde vir ‘n stukkende wêreld. Paasfees.
Met nog ‘n besige kwartaal wat voorlê bid ek vir wysheid. Waar om te hardloop en waar om te stop. Ons leef in Carpe diem oomblikke, ook hulle wat besig is om klaar te maak met die laerskool. Ek bid vir die groter prentjie vir ons kinders. Om nie vas te staar teen spanne, kapteine of posisie nie maar om te blom waar dit swart gebrand is. Om jou hart uit te speel, groen gras te wees waar dit nodig is en die geloof dat jy ook hier is om jou unieke strofe te kan skryf vir hierdie seisoen.
Carpe diem is die opdrag. Ook vir ons. Die lewe is nou. Bedoel om soms uit ‘n ander hoek te kyk. Mag ons die groen gras sien en besef dat ons tot alles in staat is deur Jesus wat ons krag gee.