Die Maandag daarna
Vrydag het ons Sy kruisiging herdenk. Saterdag saam met die familie bruilof gevier, gedans en gelag. Sondag was opstandingsdag. Ons is kerk toe want die graf is leeg en ons harte juig. Na die diens eet ons paaseiers omdat ons van sjokolade hou. Ons hou ‘n roerbraai en geniet ‘n familiedag tussen al die ooms, tannies, niggies en nefies.
Dan breek Maandag aan….
Ek word wakker met ‘n beklemming. Ek dink aan die week wat voorlê en alles wat ek moet doen. Ek maak somme van die tyd en maak lysies in my kop. Die naweek met al sy gebeure amper vergete.
Ek trek my drafskoene aan, haal diep asem en maak my longe vol. Kuspad, strand af, op verby my ouma se huis, kronkelpaadjie berg toe. My gedagtes wissel tussen Paasfees, die week wat kom en alles tussenin. Dis by die onderpunt van die Berg waar die kontras my tref. Aan die een kant , geskroeide blare, voor my ‘n grys berg wat rou lyk na die brand van nou die dag. Regs agter die swart gebrande deel. Langs die paadjie aan my regte kant, helder groen stamme met pienk proteas wat sowaar begin blom het. Die kontras is opvallend mooi.
Ek dink aan die karakters van die Bybel en wat hul op ‘n Paasmaandag kon beleef het. Maria in die sewende hemel. Sy het haar Here gesien! Die dissipels dalk steeds verslae na Jesus se kruisdood. Die graf is leeg. Net Sy doeke lê opgerol. Maria getuig dat sy met Hom gepraat het maar hul sukkel om sin te maak van alles. Die wagte leef in vrees. Iemand gaan dalk moet boet. Die Fariseërs ervaar ‘n graad van ongemaklikheid en weier om iets van ‘n opstanding te glo. Die Romeinse soldaat kan Jesus nie uit sy kop kry nie, iets was anders aan die man. Die skare van Jerusalem skud steeds die kop….watter vreemde paasfees was hierdie tog nie. Gelukkig was die kos lekker…dit was ‘n goeie fees…
Paasmaandag…Is ek opgewonde, verslae, ongelowig, vreesbevange, ongemaklik, soekend of dalk heeltemal onaangeraak? Is ek ‘n gebrande berg, ‘n kaal stuk veld, verskroeide moeë blare of ‘n deel wat kleur bring na die onverwagse reën?
Ek laat sak my kop ‘n bietjie skaam en soek ‘n ander lied. Ek hoor Hom duidelik in my kop: “Wat maak dit saak wat voorlê en wat daar op ons wag, ek hoor weer die tortelduiwe sing. Dit vul die vroeë môre, ek wil dankie sê aan Hom en ek wonder wat die nuwe dag my bring: ‘n Bietjie meer tyd om Hom te loof, te groei in my geloof, ‘n bietjie meer tyd om Sy liefde vir my te deel en te bely…” Dís wat hierdie week op my wag…
Die proteas in die veld herinner my hoe ‘n paasmaandag-dinsdag-woensdag kind van God moet lyk. “Soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie….” Psalm 1. Nie omdat ek dit op my eie kan regkry nie, maar omdat Hy die dood oorwin het.