Tweede kanse
Met die maand wat ten einde loop, staan ek ‘n oomblik stil om terug te kyk. Daar was baie emosies in hierdie maand. Teleurstelling, dankbaarheid, vreugde, opwinding. Die viering van ‘n verjaarsdag en selfs ‘n bruilof.
Ek sien hoe my kinders hul wortels in die grond stoot en stelselmatig in hul eie tipe boom ontwikkel. Een skiet uit, een se blare word ‘n skadu vir ander. Daar is blomme in nog een se boom en ‘n vastigheid in die ander. Ons hoef nie soos die ander te wees nie. Ons groei deur teleurstellings en word verras deur tweede kanse.
In die maand het ons ook die kruisiging herdenk. Die oop graf en die wete dat Jesus opgestaan het. Dan breek Maandag aan. Ons lewens raak vol. Die Emmausgangers wonder oor al die gebeure. Hul praat oor Jesus sonder dat hul besef dat dit Hy is wat die Woord oopmaak en langs hul stap. Dis eers as hy die brood oopbreek dat hul oë oopgaan en hul Hom herken.
Die storie raak my omdat ons ook soms so besig raak met alles rondom ons. Ons wonder oor dinge en sukkel om alles te verstaan. Soms soek ons die antwoorde op die verkeerde plek. Mis ons die Jesus wat ons eintlik soek. Tweede kanse kom daar waar jy dit die minste verwag. Broodbreek oomblikke.
Wanneer die jongste se naam per abuis uitgelaat word moet ons diep delf om moed te skep en aan te hou. Dan kom die onverwagse oproep. Daar was ‘n fout. Vir haar is dit ‘n tweede kans. Sy gryp dit aan. Elke sessie word ‘n geleentheid. Genade verras. Ons eindig hoër as beplan. Ons dans op die wind. Daar is vrolikheid maar ook verantwoordelikheid: “Make a difference. You are here for a reason.”
Soms kom tweede kanse ongevraagd en onverwags. Dis vars genade. Dit kom vir elkeen, soms net uit ‘n ander hoek. Soms om te blom en ander kere om weer te probeer. Op te staan en te groei in dit wat jy bedoel is om te wees. Die boom wat moet uitskiet, dalk skadu kan bied of vrugte moet dra in ‘n droë seisoen.
Die Emmausgangers het Hom herken en dadelik teruggedraai Jerusalem toe. Tweede kanse laat jou anders na die lewe kyk. Vandag se terugkyk help my om op te kyk en te onthou. Alles is net genade.