Passie gee rigting
“Wat doen jy vir ontspanning?”, wil ek dikwels weet. Veral wanneer iemand oorwerk, moeg en gestres voor my sit. Dikwels kyk hul my aan asof ek in ‘n vreemde taal gepraat het. Wanneer hul uiteindelik aan ‘n antwoord kan dink, het dit meestal iets met ‘n skerm en ‘n “remote” te doen, en baie min met enige aktiweit of belangstelling.
In ‘n tydskrif vang my oog die opskrif: “Ontdek weer jou passies.” Die artikel gee dan raad hoe om jou passies weer te ontdek. Een van die voorstelle is dat jy in jou spore moet terug beweeg na jou kinderjare en onthou wat vir jou lekker was om te doen. Dalk was dit sport, kuns of dans. Dink ek aan ons kinders besef ek opnuut hoekom ons moet waak dat te veel tegnologie ons kinders se lewe oorneem. Die gebrek aan verveling en die konstante druk van knoppies, beroof hul dalk van die kans om hul eie passies vir eendag te ontdek.
In ‘n ouer handleiding om leer vir kinders makliker te maak, word daar klem gelê op die feit dat ons doel nooit moet wees dat ons kinders die toppresteerders in die klas moet wees nie, maar eerder dat hul so moet ontwikkel dat hul die uitdagings van die toekoms kan hanteer. Een van hul wenke is dat kinders hul eie “superpowers” moet ontdek. Wanneer jy dit toepas leer jy soveel makliker. Eintlik is dit waar vir ons almal. Ons het aangebore gawes en aangeleerde gawes. Albei is belangrik maar jou unieke “superpowers” is dit wat jou die bruikbaarste maak.
Terwyl ek deur die boek Handelinge saam met Paulus reis, staan ek stil by sy besoek aan Efese. Dis hier waar hy getuig dat dit sy groot doel is om sy lewenstaak te voltooi en die dienswerk wat hy van die Here af gekry het, klaar te maak. Dit laat my wonder oor my eie lewenstaak en die dienswerk wat ek van die Here ontvang het. Uiteindelik is dit groter as jou beroep. Dis iets wat jy tot in die ouetehuis met jou moet kan saamdra. Dit het te doen met roeping en die rede hoekom jy hier is.
Die lewe steel ons drome. Teleurstellings trap daarop en kort voor lank raak ons mense wat net bestaan. Werk toe en terug, as jy gelukkig is om ‘n werk te hê. Dieselfde patroon, dag na dag. Geen wonder dat die oë verdof en mense oorlaai en gestres soekend bly nie.
Passie gee lewe. ‘n Lewenstaak gee rigting.
Mag ons opnuut ons passies ontdek, veral vir die evangelie. Passie gee energie en help ons om vorentoe te beweeg. Ons is gemaak met superpowers vir ‘n rede. Om ‘n verskil te maak waar ons beweeg. Dalk beteken dit dat jy jou verfkwas moet uithaal, jou dansskoene moet afstof of dalk weer ‘n slag tennis gaan speel. Gaan stap in die berg, speel krieket saam met die kinders, haal die ou platespeler uit, skryf ‘n gedig en neem mooi fotos. Raak weer honger vir die Woord en vind jou hoop dáárin. Los die remote…die nuus en die koerante en lewe sommer net weer.
Ons lewenstaak word gevoed deur ons passies. Soms is dit ons herstelplek en ander kere die bron van ons inspirasie. Ons dienswerk word ‘n vreugde wanneer ons ontdek dat ons hier is vir ‘n rede.