Net ‘n silwer medalje
Ek het haar van ver af gesien. Om die draai kon jy sien hoe sy agter raak. Die drie atlete van Jamaica het versnel en dit het gelyk of hul skoonskip sou maak. Dan, asof van nêrens het die atleet in baan 6 met ‘n eindpoging gekom wat almal onkant gevang het. Sy mis die silwer medalje net-net en ontvang met trots die bronsmedalje. Zeney van der Walt, die jong Suid-Afrikaanse atleet. Ek kyk weer en weer. Wie sou dit kon voorspel? Sy was die een atleet wat nie opgegee het nie maar voluit gehardloop het tot die einde. ‘n Merkwaardige resies.
Die mans hokkiespan speel hul harte uit vir die bronsmedalje maar eindig 4de. Die teleurstelling is van korte duur want die prestasie is eintlik reusagtig. Amateurspelers wat studeer en werk en as span 13de op die ranglys is. Boonop het hul die vorige keer in die 10de posisie geëindig. Hul sportmansskap word hoog geprys en hul omgee vir mekaar staan uit. Dit maak hul wenners al bring hul geen medalje huis toe nie. Agter die skerms lees ons van ‘n spanbestuur wat moes skarrel vir verblyf sonder borge, totdat ‘n Samaritaan intree en gratis verblyf en oefenplek reel. Kantlynmense wat ander se nood raaksien. Eers later het hul besef dat hierdie man ook die hulpafrigter van die Briste hokkiespan was teen wie die Suid-Afrikaners uiteindelik vir die bronsmedalje sou uitspeel.
Daryl Impey, Simbine, de Lange, Charl du Toit en ‘n paar ander ontvang silwermedaljes. Vir sommige ‘n teleurstelling maar vir ander ‘n grootse prestasie. Ek raak geïrriteerd wanneer die media die woordjie “net” byvoeg. Op daardie verhoog is dit reeds ‘n prestasie om gekies te word en as jy na soveel uitdunne ook die eindrondte bereik is jy ‘n wenner, met of sonder ‘n medalje! Dit is nie “net” ‘n silwer of bronsmedalje nie. Wayde van Niekerk word afgeskryf omdat hy nie die podium haal nie. Tog bly hy ‘n “hero” vir baie ander omdat hy aanhou probeer, aanhou glo en besig is om sy vorm te herwin. Agter die skerms is daar soveel stories waarvan ons min weet. Daar is afrigters, familielede en mense wat net soveel opofferings maak as die atleet wat die medalje huis toe neem. Die kantlynmense wat saam juig, sug, huil en troos waar nodig.
Terwyl ek my verkyk aan al die prestasies van atlete reg oor die wêreld, is ek in my stiltetyd besig om deur die boek Handelinge saam met Paulus te reis. Dis op hierdie roete waar ek ook ‘n paar kantlynmense ontmoet. Persone wat nie juis die kollig steel of medaljes sal wen nie, maar êrens op die toneel verskyn en ‘n verskil in ander se lewens maak. Ek ontmoet vir Akwilla en Priscilla. ‘n Joodse tentmaker en sy vrou wat moes vlug uit Rome. Dis by hulle wat Paulus gaan bly. Ons weet min van hulle maar lees later hoe hul vir Apollos, ‘n begaafde spreker, huis toe neem en die leer van God vir hom duideliker maak. Dis maklik om ongesiens raak te lees dat hul uit Rome moes vlug omdat hulle Joods was. In daardie sinnetjie lees ek iets van hartseer, swaarkry en ontworteling. Tog keer dit hul nie om ‘n verskil te bly maak nie. Kantlynmense. Juis hulle wat dikwels die grootste medaljes verdien. Vir aanhou probeer, ander motiveer en ons iets leer van ware karakter: Wie jy is wanneer niemand kyk nie.
Zeney het haar beste tyd gehardloop vir daardie medalje. Tog was die vraag later of sy beter kon doen as sy vroeër begin versnel het? Die wêreld is vinnig om te kritiseer en vingers te wys. Asof hulle self in daardie bootjie sit. Sommige dae kom medaljes makliker, ander dae versnel ons te stadig, wag ons te lank of is ons bene te moeg. Die groot geheim is om aan te hou, te bly glo en getrou te bly in wie ons bedoel is om te wees. Soms gaan ons eindpoging verras en ander kere gaan dit dalk teleurstel. Wenners kom nie altyd huis toe met medaljes nie. Almal kan nie ‘n Paulus wees nie. Soms is die kantlynmens in die wêreld se oë, die belangrikste in God se oë. Dis nie altyd hoe ons wedloop begin nie, maar hoe ons dit klaarmaak.
Saam met Hom is ons tot alles in staat. Fillipense 4:13