Trofees in ‘n boks
Dit was nie regtig ‘n goeie dag op die sportveld nie. Die Springbokke, Proteas en Blitzbokke verloor. By die Interskoledag gee die eerste netbal-en-rugbyspan bestes. Hulle verdedig dat dit klap, hardloop die kant toe en daai kant toe, maar uiteindelik is dit 2 doele te min en 2 strafskoppe te veel. Die modderbesmeerde traangesiggies van die laaste kaalvoetwedstryd gee ‘n knop in die keel. Ons deel drukkies uit so ver ons kan.
Op die kultuurgebied gaan dit beter, maar ook nie goed genoeg nie. Nemesia sing hoendervleis mooi maar moet uiteindelik tevrede wees met die 2de plek. By die drama kry Maanmaats die toekenning vir beste ensemble maar nie ‘n plek in die finaal nie. Bitter-soet.
Laat die aand lê ek en dink oor al die dinge. ‘n Diepe dankbaarheid oorval my. Saam met al die emosies van teleurstelling was daar immers ‘n verwagting. Tussen al die sweet was daar kameradie. Geleenthede om op die groot verhoog te kan staan, om jou hart uit te sing, om van jouself te kan gee. Bitter-soet beteken dat jy kan proe. Dat jy lewe en weer kan probeer.
In die week lees ek ‘n aandoenlike stuk op Amore Bekker se Facebook. ‘n Storie oor ‘n boks met ou trofees wat by ‘n kinderhuis beland. Hokkiedogter van die jaar, belowendste rugbyspeler, beste danser, ‘n sangtrofee. Sommige met name op wat jou laat wonder wat van die Sarie’s en Willie’s geword het. Êrens het die medaljes in ‘n boks beland, nuttelose ornamente, die oomblik van glorie lankal vergete. Amper hartseer. Tog gee dit op ‘n manier ‘n stukkie perspektief oor ons eie drome en verwagtings. Sonder die bitter-soet, die vriendskappe en al die stories rondom dit, het trofees later eintlik maar min waarde.
Terug by die kinderhuis besluit iemand om ‘n plan te maak met al die trofees. Name word met moeite afgehaal en geleenthede word gesoek. Een aand hou die kinders konsert….en dis hier waar ‘n danstrofee ‘n tweede lewe kry. Die wenner is die groep seuns wat “wild en geolie” dans en met groot vreugde hul trofee ontvang. “One man’s trash, another man’s treasure….”
Die dag na die Acapella en drama kompetisie is die teleurstelling steeds daar maar eintlik strek die hartseer dieper. Die feit dat die “journey” tot ‘n einde moes kom weeg eintlik swaarder as die uitslag. Dit verklaar ook die emosies agter die netbal-en-rugbykinders. Dis die besef dat dit jou laaste laerskoolwedstryd was saam met vriende wat as haasbekkies saam begin het.
In dieselfde storie op Amore se Facebook word die woorde van Castings Crowns se Only Jesus aangehaal: “All the kingdoms built, all the trophies won will crumble into dust when it’s said and done, cause all that really mattered: Did I live the truth to the ones I love? Was my life the proof that there is only One whose name will last forever?”
Uiteindelik som dit alles op. Liefde en lewe wat hand aan hand sin bring aan alles wat ons doen. Trofees, wen en verloor kry ‘n tyd en ‘n plek maar dis die lewensreis met vriende en geleenthede wat ons vorentoe neem.
Die groter prentjie. God se prentjie…waar ons drome veilig is en waar ou trofees selfs later ‘n plek kan vind in ‘n kinderhuiskind se kamer. All in His time….
Ek glimlag. Die verloor was steeds sleg maar die stywe drukkies na die tyd was dalk kosbaarder as eendag se medalje vir ‘n boks.