Oomblikke
Die radio omroeper het net sy werk gedoen. “Verkeersnuus: ‘n Noodlottige ongeluk op die N1 veroorsaak hewige verkeersophopings in beide rigtings. Ry asseblief versigtig.” Dit was ‘n Maandagoggend. Ek was ook oppad werk toe, ver van die verkeersknoop. In ‘n ander rigting. Ek kou aan die sin. Iemand sit gefrustreerd in ‘n verkeersknoop. Die woord noodlottig hang in die lug. Amper weggesteek. Iemand se ma of pa, of dalk se kind kom vanaand nie meer huis toe nie, maar ons kla omdat ons laat gaan wees… Jou blou Maandag raak iemand se hartseer Maandag.
Op dieselfde dag wat ons verjaarsdag vier met vroegoggend geskenke en sing in die bed oomblikke word die tragiese gebeurtenis van “9/11” weer herdenk. Duisende mense daardeur geraak. Ek wonder oor die lewe met sy lief en leed. Een se vreugde, ‘n ander se dag van smart. Oomblikke soos hierdie waar ‘n mens besef hoe kosbaar elke dag is en hoe nodig ons het om die hier en die nou oomblikke te vang en te ontdek.
Terwyl dit buite reën en ek hardop wonder wat van die lente geword het, kyk ‘n pasiënt uit en noem dit ‘Showers of blessings’. Dit laat my glimlag en anders kyk. Nog ‘n oomblik om aan te gryp.
‘n Week nadat ek geskryf het oor die groot boom wat oor die paadjie omgeval het, gaan hardloop ek weer in dieselfde woud. By die plek waar die boom omgeval het, is die paadjie weer oop. Ek stop en kyk verbaas rond. Die draadheining staan weer stewig. Langsaan kan jy die groot boomstomp sien van die boom se basis en aan die ander kant lê die groot boom amper ongemerk in die veld. Die oomblik verby. As ek nie daardie dag gehardloop het nie, het ek die boom in die paadjie gemis, sou ek eenvoudige net aangehardloop het en nooit gestop het nie. Die boom se storie was bedoel vir daardie oomblik.
Die hindernis in die paadjie is lewensoomblikke. Ongevraagde en soms onwelkome gebeure wat jou laat stop en soms moet laat oorklim, maar deel word van jou storie. Dit bring waardering vir paaie wat makliker hardloop, maar laat jou ook toe om rond te kyk en ander dinge raak te sien.
My teksvers van die week kom uit Romeine 12. Dit raak my anker wanneer ek self ook moeg en moedeloos wil raak. “Vebly julle in die Hoop, staan vas in verdrukking, volhard in gebed.” Dis bedoel vir boom-in-die-paadjie oomblikke wanneer dinge moeilik voel. Wanneer ek leer om dit saam met die Here aan te pak, help hy my om daaroor te klim. Hy gee my ook krag om my kinders se hande te vat wanneer daar stompe en klippe in hul pad beland. Die lewenspad wat ons loop, wat ons rus verstoor en ons siel wil versmoor.
Boom-oomblikke is nie altyd verstaanbaar nie en tog maak dit dat ons anders na die lewe kyk. Dit word deel van ons lewensstories. Wanneer God deel raak daarvan, raak dit ook deel van ons getuienis. Dan kan ons dit regkry om soos Dawid te getuig dat daar by die Here oorvloedige blydskap is…want Hy vat ons nie weg uit die lewe nie, maar Hy leer ons hóé om te lewe.
Dankie Here, vandag sing ek saam met Psalm 16 se woorde: “U is my lewe…U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. ‘n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja wat ek ontvang het, is vir my mooi. Ek sal die Here loof wat my tot die regte insig gebring het, selfs in die nag bly ek bewus van wat Hy my leer. Ek het die Here altyd by my: omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie.” Selfs al val bome in my pad.