Verjaarsdagrefleksie
‘n Verjaarsdag is vir my refleksie tyd. ‘n Tyd om terug te kyk en dankie te sê vir gawes en geleenthede, familie en vriende. ‘n Bietjie te “pause” oor die hier en die nou en jou toe te laat om te droom oor môre. As dit jou kind se verjaarsdag is, dink die meeste mammas terug aan daardie dag toe ‘n nuwe lewe aan jou toevertrou is. Jy geniet jou kind se vreugde oor sy persente, maar stilweg is daar geskenke in jou hart wat jy nie kan toedraai nie. Woordlose wense van seën en voorspoed wat jy gee terwyl jy jou kind styf vasdruk. Soms wil jy vir ‘n oomblik die jare terugdraai en ander kere is jy dankbaar dat jy hul grootgemaak het om te kan vlieg.
Met my eie verjaarsdag staan ek self in verwondering dat tyd so ongemerk gevlieg het. Beelde van kinderverjaarsdae vlieg verby. Ek onthou met ‘n glimlag toe ons die Ribbok staproete by Golden Gate gaan stap het en my gesin vroegoggend vergeet het dat ek verjaar. Ek onthou die lang opdraende van daardie dag, die soet woordjies toe hulle uiteindelik besef, maar ek sien ook my broer met sy gespierde lyf, wat sy rugsak bo neersit, omdraai en afhardloop om my ma se sak te gaan haal. Goeie herinneringe. Daar was heelwat ander verjaarsdae met pieknieks en staproetes waar ons die lewe in sy voluit kon proe. Ek kyk dankbaar terug. Hoe lekker as jy saam met jou kinders die piek kan bereik of by ‘n waterstroom kan rus. Rykdom op sy beste!
Hierdie jaar lê ek die aand voor my verjaarsdag op die bank en luister na die dag se preek op ons kerk se sosiale webtuiste. Die boodskap gaan oor lente as ‘n tyd waar jy huis skoonmaak na die winter. Die skrifgedeelte kom uit Psalm 51 en verwys na Dawid wat sy lewe moet skoonmaak na sy owerspel met Batseba. Dawid erken sy foute en pleit by die Here om hom skoon te was: “Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig” Die gebed tref my en raak op ‘n manier ook my gebed om my lewe voor die Here se voete neer te sit, met die begeerte dat Hy my hart se huis voor my verjaarsdag, sal skoonmaak. Standvastig, ‘n woord wat jou anker as die storms om jou woed. Mag ek ook, soos Dawid dit stel, diep in my binneste weet hoe U wil dat ek moet lewe.
Wanneer ‘n vriendin wou weet wat op my wenslysie is vir my verjaarsdag, kom die antwoord maklik: Gesondheid. Iets wat ons so maklik asvanselfsprekend aanvaar, tot ons dit verloor. Soveel keer is dit ‘n rug, ‘n enkel of my asmabors wat my keer om voluit te hardloop. Deesdae kyk ek minder op my horlosie hoe vinnig ek draf. Voorheen was tye en afstand belangrik, nou is dit ‘n voorreg net om buite te kan wees. Gesondheid is genade, maar ook ‘n verantwoordelikheid. Geld kan baie koop, maar dikwels nie dít wat jy die nodigste het nie.
Ek maak daarom vandag ‘n venster van dankbaarheid oop oor hierdie nuwe dag. Die son kom op en die voëltjies sing buite. Ek voel geseend dat ek kan asem haal, my kinders se stemme kan hoor, en dat daar mense is wat vir my lief is. Ek het geleenthede om my drome te kan uitleef. Genade op genade. Ek kan nie noodwendig sien hoe my pad gaan lyk nie, maar ek weet dat dieselfde Vader wat vir my gesorg het tot hier, ook vorentoe oor my sal waak.
Ek skryf my drome neer en maak my emmer vol hoop. Mag wat ek sê en wat ek doen vir U aanneemlik wees. Mag ek U planne vir my lewe ontdek, mag ek sinvol lewe en ‘n aangename geur los waar ek beweeg.
Of ek lewe, en of ek sterwe, ek behoort aan U. Dankie vir ‘n verjaarsdag. Dit herinner my aan die geskenk van lewe. Dit laat my dankbaar terug kyk en hoopvol uitsien na môre. Ek wag op U Here, meer as wat die wagte op die môre wag, want ek vertrou op U. (Psalm 130)