Captain, my captain!

Oh Captain, my captain! Een vir een het die seuns op die banke geklim. Hul mentor het by die deur gestaan. Die man wat hul geleer het om uit ‘n ander hoek na die lewe te kyk, om te droom maar ook in die oomblik te leef. Dead Poets Society. ‘n Merkwaardige fliek wat die afgelope tyd weer in my kop kom. Op ‘n manier hartseer omdat daar steeds min plek is vir mense wat uit ‘n ander hoek na die lewe kyk. Wat in ‘n boks geplaas word sonder om voorsiening te maak vir buigsaamheid. Wat gemeet word aan ‘n stel reëls terwyl die menslike faktor dikwels in die proses verlore gaan: Die omgee en raaksien van kinders, om jou passie te deel en hul opgewonde oor die lewe te maak. ‘The bigger picture’, wat nie altyd in sigbare resultate gemeet kan word nie. Wat maak dat baie by die deur eindig om te groet.

Gelukkig is daar ander wie se boksies meer buigbaar is of dit regkry om in die stelsel te bly en steeds ‘n verskil te maak. Ek dink aan die drama-onderwyser wat die eenkantkind raaksien en hom ‘n plek op die verhoog gee, die sangjuffrou wat die skaam kind se stem ontdek en haar die treffer op die revue laat sing, die viooljuffrou wat soos ‘n ma word vir ‘n kind wanneer sy angstig word , die sportonderwyser wat brokkies hoor van die moeilike ouerhuis en meer doen as net afrig. “Kennis maak verwaand, maar liefde bou op.” 1 Korintiers 8:1. Boksies van orde is belangrik maar slegs as dit buigbaar genoeg is om passie en liefde deur te laat.

In die samelewing is daar baie mense wat die regte dinge sê en doen, wat binne die boksie bly van reëls en orde, maar baie mense afstoot met hul ongenaakbaarheid. Dan is daar ander wat twyfelagtige keuses in die lewe maak, wat sukkel met orde, maar wat meer mense bereik weens hul omgeeharte. Êrens is dit nodig om ‘n middeweg te vind. God se orde lyk dalk ‘n bietjie anders.

Wanneer my seun belydenis van sy geloof aflê, is ek dankbaar. Omdat hy hardop bely dat hy in Jesus glo en omdat dit die belangrikste keuse van sy lewe is. Belydenisaflegging word beskryf as ‘n komma in jou lewe waar jy jou koers afbaken en God se rigting kies. Ds Deon vat dit verder. Hy laat elke kind ‘n voorskoot aantrek met die boodskap: Saved to serve. Wanneer ons ‘n Koningskind word is dit om hoop in die lewe te bring. Om God se instrument te word. Minder klippe te gooi, voluit te leef, sagter na die lewe te kyk. Dis ook refleksie tyd vir ons wat ouer is. Wat vasgevang raak in ons eie boksies en sukkel om deur die Here se oë na die wêreld te kyk. Ek gee riglyne vir my kind: Hou jou oog op Jesus en lees Sy woord. Kies goeie vriende, wees deel van ‘n geloofsgemeenskap. Moenie onnodig in geloofsargumente betrokke raak nie. Jy weet nie alles nie, en dis ok. Geloof, hoop en liefde, hierdie drie, hou dááraan vas. Dis die basis van God se orde.

Kyk ek terug na onderwysers en mentors op my pad is ek veral dankbaar vir hulle wie se deur oop was om sommer net te kon gesels. Ek is dankbaar vir riglyne en goeie beginsels maar veral vir hulle wat buigbaar genoeg was en deernis gehad het. Wat foute kon uitwys maar my ook met liefde op die regte pad kon hou. Uiteindelik is kennis belangrik, maar kennis sonder wysheid, en wysheid sonder liefde, maak van ons nuttelose instrumente. Die wêreld het instrumente van hoop en liefde nodiger as kennis.

Mag ons vandag ons kinders toerus om in Jesus se voetspore te bly. Mag ons Hom toelaat om ons uit die wêreld se boks te lei waar nodig, om anders te kyk en anders op te tree.

Vir elke onderwyser en man op die straat wat sy hart en passie volg en dit regkry om tussen al die uitdagings rondom hulle, die boksie ‘n bietjie te buig met sagtheid en ons kinders toe te rus met meer as feite, salueer ek vandag met hierdie woorde: Oh Captain, my captain!

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories