Genade wanneer jy die fluit herken…
Êrens in die skare het hy weggeraak. Gelukkig het hy daardie dag ‘n rooi pet opgehad. Van ver af het ek hom uiteindelik raakgesien. Hy was duidelik verlore. Ek het vir hom gefluit en kon sien hoe hy stop en rondkyk. Ek het nog nader gestap en weer gefluit. Hierdie keer kon hy die rigting bepaal waarvandaan die fluit gekom het. Hy het omgekyk en my raakgesien. Die trane het van sy wange afgerol. “Toe ek die fluit hoor het ek geweet mamma was daar, al kon ek mamma nie sien nie.” Dit was die mooiste klank vir sy seuntjie hart.
Met kersfees hierdie jaar wonder ek watter boodskap ek moet kry. Die rooi pet storie maak iets los in my en ek wonder of kersfees op ‘n manier die fluit is wat ons moet hoor. Die herinnering dat die Here hier is, nader as wat ons dink.
Ek dink aan die Kersverhaal soos opgeteken in Lukas waar ons lees van Josef en Maria en baba Jesus in ‘n krip. Die herders en die engelekoor. Stille nag, heilige nag. Dalk is ons die kinders om die krip wat net weer die kersverhaal moet hoor, maar miskien, net dalk die seuntjie met die rooi pet. Êrens tussen ‘n skare mense. Verdwaal en soekend. Rigtingloos. Wat die fluit van genade opnuut moet hoor.
Genade as jy gered is, genade as jy afgedwaal het maar ook genade bedoel vir ander wat nog moet hoor.
Ek vind iets daarvan in die opdrag van Jesaja 61:1 “Die Here het my gesalf om ‘n blye boodskap te bring aan die mense in nood, Hy het my gestuur om die wat moedeloos is, op te beur, om vir die gevangenis vrylating aan te kondig, vryheid vir die wat opgesluit is, om aan te kondig dat die tyd gekom het waaroop die Here genade betoon…”
“Vir jou het die lig gekom, die magtige teenwoordigheid van die Here het vir jou lig gebring…” Jes 60:1
Dalk is kersfees hierdie jaar opnuut ‘n uitnodiging vir almal in die veld om soos die herders te waag om van die genade te kom drink. Of dalk is dit ‘n wekroep aan almal reeds bý die krip, dat dit onverdiend is. Dat dit dankbaarheid en nederigheid vra wanneer ons Jesus ken sonder om hoogmoedig daarop te roem. Dit vra ‘n bewustheid na ander wat soekend is en oë wat met sagtheid na hulle kyk wat verlore is. Dit vra ‘n verantwoordelikheid om ligdraers te wees en mense na die krip en die kruis te kan lei. Omdat ons self van die genade gedrink het. Omdat ons daardeur hoop ontvang het. Hoe wonderlik as ons kan raaksien dat Kersfees nie die tyd is om ander te veroordeel nie maar dalk juis die tyd is waarop die Here genade wil betoon. Sy Lig was nog nooit só nodig nie.
Wanneer die seuntjie die fluit hoor, weet hy dat sy redding naby is. Dat hy gevind is al is hy nog nie by sy bestemming nie. “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is…”
"Genade onbeskryflik groot,
het U aan my bewys.
Verlore seun,
'n wegloop kind
weer in die vaderhuis."
Kersfees, genadefees.
“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”
Dalk die fluit wat ons almal híerdie kersfees weer moet hoor. Die fluit vir elke rooi pet wat soekend is. Ook die fluit vir almal om die krip. Genade, onverdiend, beskikbaar vir almal wat glo.
“Kom ons gaan reguit Betlehem toe om te sien wat gebeur het, soos die Here dit aan ons bekend gemaak het.”
Mag jy vandag sy fluit herken, stop, terugdraai en soos die herders Hom ook vind.
Hy wag vir jou.