‘Imagine’, begin deur te glo
“Hoekom is jy hier?”, wou die sportsielkundige, Jannie Putter, by die mooi jong seun weet. “Omdat ek my humeur op die sportveld verloor”, was sy antwoord. Die seun se pa het verskonend bygevoeg: “Hy is ‘n regte vuurkoppie op die veld”. Jannie het die gesprek net daar gestop en hardop gewonder wat se effek dit sou hê, as hy eerder sy pa se koelkoppie kon word. Die seun het breed geglimlag en sy pa het die boodskap gekry. Noem jou kind wat jy graag in hom wil sien.
Negatiwiteit kweek negatiwiteit. Hoe jy dink oor iemand of oor iets bepaal jou persepsie daaroor en dikwels ook die uitkoms. In die animasie fliek, Zootopia, wou die klein jakkals graag by die Junior Ranger Scout groep aangesluit het. Ongelukkig was hy die enigste roofdier en het niemand geglo dat enige jakkals goed kon wees, of vertrou kon word nie. Ten spyte van sy beste pogings was almal lelik met hom en is hy verneder en seergemaak. “Wat baat dit my om goed te probeer wees as die wêreld my soort dan in elk geval net as sleg en skelm beskou?”, het hy gewonder. “Laat ek dan maar word wat hul in elk geval van my verwag…”.’n Hartseer voorbeeld van dit wat dikwels daar buite gebeur. Soms ook in ons eie binnekring. Hoe maklik plaas ons self die ‘tags’ rondom mense se nekke, breek ons drome af en plant ons verkeerde persepsies. ‘Die een wat moeilik leer, die luie, die agterskapie, die moeilikheidmaker….” Hoeveel mense loop steeds rond met ‘tags’ van ‘n fout in die verlede?
Op die vooraand van die nuwe jaar is my vraag aan myself wat ek van my kinders, my werk, my land en ook van myself verwag? Watter etikette moet ek dalk afhaal en vervang? Watter persepsies moet ek ondersoek en agterlaat? Waarvoor hoop ek? Wat droom ek? Wat is God se perspektief hieroor?
John F Kennedy het Amerikaners destyds uitgedaag om anders na hul land en hulself te begin kyk: “Ask not what your country can do for you – ask what you can do for your country.”
Dalk vra die Here ons ook om ons persepsies en negatiwiteit ‘n oomblik neer te sit en net weer te begin “imagine”. Wat as…jou man, jou kind, jou werk, jou land…die goeie na vore kan bring? Watter rol speel ek in daardie verwagting?
In die kragtige lied, I can only Imagine, deur Bart Millard, kry die skrywer vrede na sy pa se dood wanneer hy hom verwonder aan die gedagte hoe dit sal wees om saam met Jesus te kan wees. Die lied laat jou dans tot in die hemel maar bring my ook terug aarde toe na ons wat agterbly. Wat is God se droom vir ons? Kan ek waag om dit te ‘imagine’?
Jeremia 29 wys my ‘n stukkie van Sy droom…”Ek weet wat Ek vir julle beplan, voorspoed en nie teenspoed nie. Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting! ” Dalk leer ons iets daarvan wanneer ons Hom toelaat om ons denke te verander sodat ons lewe kan spreek, eerder as afbreek. Tags kan afhaal en mense kan ophelp. Sý droom kan ontdek.
Wat ons dink, glo en praat het ‘n groter effek as wat ons ooit sal kan besef. Die basis van wat ons graag wil sien begin dus met dit wat ons hoop en wat ons uitspreek. Die vuurkoppie het ‘n groter kans om ‘n koelkoppie te word as hy glo in wat hy kan wees. Aanhou probeer klink beter as nooit regkry.
“Ek sal my Gees uitgiet op jou kinders….” Ek maak hul nie noodwendig sterk of vinnig nie. “Ek sal volop water gee op die dorsland, strome op die droë grond.” Ek waarborg nie altyd groen gras nie….
Terwyl ek lê en kyk na die wolke in die lug word ekself weer kind. Hy laat my inasem en uitasem. Hy wys my die mooi en help my om dit ook vir my kinders te wys. Hy bring my by waters waar daar vrede is sodat ek Sy stem kan hoor. ‘Imagine’ word ‘n woord met krag vir almal wat glo.
Verbeel jou: Kinders wat die Here dien, mense wat ander bemoedig, meer lof en minder klagtes, ‘n regering en ‘n land wat aan die Here behoort . “But ask not what your country can do for you, ask what God wants yóú to do….”
2022 is verby, 2023 is hier. Here, verandering begin by onsself. Maak ons denke nuut, verander ons persepsies en help ons om opnuut weer te glo. Plant hoop in ons harte. Ons wil graag weer droom.
‘Imagine’ begin deur geloof.