‘n Foto laat die lewe ‘pause’

Êrens op die roete het ons gestop vir nog ‘n foto. In die woud tussen die bome. Ek het gedink aan die ou tannie wat oomblikke kon vasvang met haar woorde: “This is a happy moment”. Dis daardie pause-oomblikke waar jy nie net ‘pose’ vir ‘n foto nie, maar waar jy in daardie oomblik besef dat jy jou oë moet oopmaak om te beleef en te waardeer. Wáár jy is en sáám met wie. a Happy moment.

Die geleentheid was eintlik die verjaarsdagwens van my drafmaat en goeie vriendin. Om saam met vriendinne Tafelberg te klim. Die genooides was almal hartsmense met ‘n liefde vir die buitelewe en ‘n relatiewe fiksheid. Klim moes jy kan, op lere en oor klippe. Die weer het van sonskyn na wolke verander en bo-op die berg was dit koud. Tog het dit niemand se energie geblus toe ons genooi word om ‘n ekstra stukkie te stap vir die kans om ‘n rooi disa te sien nie. Nog ‘n onthou oomblik. By die half-leë dam het ons gelag vir die groot skêr wat ‘n stapmaat uit haar sak haal, ‘omdat dit al was wat sy met ‘loadshedding’ die oggend kon raak sien!’ Die skêr was bedoel vir haar toon se pleisters maar ewe nuttig om die ander se biltongsakkies te kon oopsny! Die blomme langs die pad was ‘n fees en almal se foto’s na die tyd het die mooiste ‘collage’ gemaak. Al geselsend het almal die eindpunt bereik. Moeë bene maar warm harte. Vir sommige hul eerste Tafelberg staproete ooit. ‘Happy moments’ waar ons nie noodwendig ‘ouer word’ gevier het nie, maar die geleentheid om die lewe te leef, te lag en te waardeer.

Wanneer ‘n suksesvolle besigheidsman terug keer na Suid-Afrika nadat hy vyf weke in Kanada by sy dogter gekuier het, getuig hy hoe dankbaar hy was om terug te wees. Vir baie redes. Hoe anders hy kyk en wat hy waardeer. Uit sy waarnemings deel hy twee wenke wat ons moet doen. Hard genoeg werk om ‘n goeie pensioen te hê en jou deel doen om werk te skep: Gee fooitjies waar jy kan, vir die kelner, die karwag en ander op jou pad. Ons kan nie alles verander nie, maar ons kan ‘n verskil maak in die mense se lewens wat ons pad kruis. Waardeer wat jy het.

Wanneer die dominee in die kerk vertel van die broodjies en vissies waarmee Jesus baie mense gevoed het, is dit oor Andreas wat hy praat. Die broer van Petrus waarvan ons min weet. Wat met ander oë kyk en ander dinge raaksien. Die stil man agter die skerms wat die moed het om die seuntjie na Jesus te bring. Om ‘n verskil te maak begin om met jou hart te leef.

Dink ek aan ons staproete is dit kosbaar hoe ‘n ‘random’ groepie vroue ‘n oggend kon inkleur. Almal met ander gawes en passies. Een ken die roete en bring ‘n ekstra stapstok, ‘n ander weet waar die disas is en draf vooruit. Iemand se sak is groot genoeg om ‘n ander se snacks te dra, iemand onthou ‘n skêr en ‘n ander het ekstra water. Vir sommige is die lere meer uitdagend en vir ander is die afdraendes ‘n taaier toffie, maar saam word die uitstappie ‘n fees. Juis omdat elkeen met ‘n ander oog kyk en ‘n ander oor luister. Omdat ons vir mekaar kan wag.

Jesus maak die broodjies en vissies meer. Hy voorsien wanneer mense waag om hul harte oop te maak. Andreas het self nie geweet wat Jesus sou kon doen nie, tog sien hy die seuntjie raak. In elkeen van ons lê daar passies en gawes wat Hy kan gebruik. Hy het ons nie gemaak om berge op ons eie te moet klim nie maar om dit saam met ander te kan doen.

Wanneer ons stop vir ‘n foto is dit meer as net ‘n herinnering vir môre se terugkyk. Dis ‘n komma in die pad, ‘n wekroep om te pause en die oomblik raak te sien. As die sakeman terug kom van Kanada en hy die sonskyn en vriendelikheid beleef, besef hy opnuut wát hy het.

Nog ‘n kans om hier ‘n verskil te maak.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap