‘n ‘Fan’of ‘n volgeling
“Is jy ‘n ‘fan’ of ‘n ‘follower’ van Jesus?”, was die vraag. Hy het verder verduidelik. ‘n Fan weet wie iemand is, trek graag voordeel waar hy kan, maar maak nie sommer ‘commitments’ nie. ‘n ‘Follower’ van Jesus aan die ander kant, spandeer tyd saam met Hom, leer by Hom en is toegewyd om sy tyd en gawes te gee. Nie alle kerkmense, selfs nie alle Christene is noodwendig volgelinge nie. Om van Jesus te weet, is nie genoeg nie.
Zantie Swanepoel maak ‘n opmerking dat as meer mense eerder sal wónder hoekom mense op ‘n sekere manier optree in plaas daarvan om net vingers te wys, die wêreld ‘n bietjie anders sou lyk. Die Fariseërs het hulle koppe geskud oor wie saam met Jesus geëet het. Die dissipels het ook nie heeltemal verstaan nie, maar saam met Jesus het hul geleer om anders te kyk.
Elke dag kruis ons pad met baie mense. Soms raak ons deel van die hoofstroom wat maar net asem haal. Die wonder is dat groot verskille in klein oomblikke gebore word. Wanneer ons op ons pad ‘n komma inwerk om saam met ander te pause, uit te reik of bloot net anders op te tree, dan ontstaan stories waarvan ons ook deel word.
Toe die pappa jare gelede na die oorlog moes vertrek, het sy seuntjie besluit om elke dag vir hom ‘n briefie te skryf. Daarna het hy dit in ‘n papiervliegtuigie gevou en vir sy pappa gepos, met die geloof dat hy sy briefies sou kry. Die papiervliegtuigies het elke dag in die buurman se tuin beland. Dit kon hom kwaad maak, irriteer of nuuskierig maak. Daar was een van 3 opsies: Hy kon alles optel en weggooi, hy kon met die mamma gaan praat om die seuntjie aan te spreek, of hy kon die rede ondersoek. Die buurman het die laaste opsie gekies. Hy het die vliegtuigies oopgevou en die briefies begin lees. Dit het sy hart só geraak dat hy besluit het om uit te vind waar die pappa was. Daarna het hy kort-kort die briefies in ‘n koevert gesit en vir die man gepos. Toe die seuntjie uiteindelik met sy pappa kon praat, en hoor dat hy al die briefies gekry het, was hy oortuig dat Jesus sy gebede verhoor het.
Nadat ek twee keer die nommer 4 skoolskoene op die skool se soekgroep geadverteer het, gratis, en niemand dit wou hê nie, het ‘n naam by my opgekom. Ek was nie seker of haar dogtertjie al groot genoeg was nie, maar ek het tog ‘n kans gevat. Sy het breed geglimlag toe ek haar die skoene gee. “Hoe het jy geweet om aan my te dink?”, wou sy weet. Met al die skryfbehoeftes wat sy moes koop, was daar nog nie geld vir skoolskoene nie. Die grootte was perfek!”
Dan onverwags op ‘n Saterdagmiddag, bel ‘n man om te hoor of die pienk fiets nog te koop is. Nie vir sy eie kind nie. Hy vertel van die groepie kinders wat elke middag naby hulle huis speel. Na die vakansie ry almal nou met fietse rond, net een dogtertjie het nie een nie. Haar ma is ‘n enkelouer. Hy het gedink om dit vir haar te koop.
Jesus sien die visserman, die tollenaar en die Samaritaan raak. Hy leer hul stories ken en maak hul deel van sy koninkryk. Hy verwag nie van iemand wat hy nie het nie, maar hy verwag dat ons ons oë en ore moet oopmaak. Terwyl die wêreld se boosheid voortduur en dinge ons kwaad maak, is daar mense wat steeds aanhou goed doen. Wat raaksien dat ‘n dogtertjie nie ‘n fiets soos haar maatjies het nie. “…doen wat goed is, woon en werk rustig voort”, sê Psalm 37. Dalk is die groot verskil tussen ‘n fan en ‘n volgeling dat ‘n fan graag ín die lig wil sit, maar ‘n volgeling die verantwoordelikheid vat om sy lampie vol te maak om vir ánder lig te bring.
Om van Jesus te weet, is nie genoeg nie. Om naby Hom te bly maak jou nie noodwendig ‘n volgeling nie. ‘Commitment’ is om Sy hoop in te laai en doelbewus lig te bring waar dit donker is. Om te leef deur geloof wanneer ons sukkel om te sien. Soms beteken dit om anders te luister of op te tree. Iemand op te beur met ‘n goeie woord. Dalk kom dit in die vorm van swart skoene of ‘n fiets, en soms deur eers die vliegtuigie oop te maak en te lees. Klein gebare mag onwetend die antwoorde word van ander se gebede.
Fan of volgeling begin met ‘n keuse. Net een kan vrugte dra.