Waag dit om uit te klim
Dis ‘n pragtige yskoue Saterdag oggend. Ek kies die mooi pad werk toe. Langs die pad sien ek die groot groep drawwers op die sypaadjie. By die see maak ‘n paar branderplankryers gereed om die see aan te durf. Daar is stappers met warm baadjies en koffie in die hand en ‘n ent verder ook vissermanne op die strand. Almal mense wat die koue trotseer het vir ‘n goeie rede. Almal met ‘n doel. Dapper genoeg om uit ‘n warm bed te kon opstaan.
Ds Deon Els vat ons die Sondag terug na die dissipels se doen en late in die tydperk tussen Jesus se opstanding en Sy hemelvaart. Ek probeer om vir ‘n oomblik in hul skoene te staan. Eers was daar die ongelooflike pad saam met Jesus, uiteindelik die laaste ete in die bovertrek, toe die ondenkbare, die kruisdood, dan die vroue wat ontdek dat die graf leeg is, Jesus wat aan hul verskyn maar ook weer verdwyn. Lugleegte. Stilte. Oorweldig deur alles en onseker oor wat volgende moet gebeur. Rigtingloos. Dalk selfs ‘n bietjie doelloos. Dis hier waar ons die dissipels ontmoet. Petrus maak ‘n besluit. “Ek gaan visvang.”
Ek dink aan baie mense wat ek daagliks ontmoet. Almal met dieselfde siekte, ongeag die ouderdom. Lewensmoegheid. Wat moeg gaan slaap en moeg opstaan. Wat lankal vergeet het wat hul dryf en wat hul passies was. Wat met moeite voortbeur om ‘n bestaan te maak.
Wanneer Petrus besluit om weer te gaan visvang, trek hy sy vriende saam terug na hul ou bestaan. Heel nag vang hul niks totdat Jesus opdaag. Die wonder is dat hy hul ontmoet op die plek waar hul is. Hy raas nie, vra nie vrae nie maar maak ‘n voorstel: “Gooi die net aan die ander kant uit.” Die stilte word gebreek deur ‘n eenvoudige opdrag. “Vanwee die groot klomp vis kon hul hom nie weer intrek nie.” Skielik is daar nuwe lewe in die dissipels se bestaan. Die man wat hul geroep en geleer het, weet hoe nodig hulle hom op daardie oomblik gehad het.
Soms is dit maklik om vroeg op te staan. Om jou drafskoene aan te trek en die dag aan te pak. Ander dae is dit moeiliker, is die bed te warm en die wind te sterk. Soms het jy iemand nodig wat jou stoot of wat vir jou wag en ander kere het jy ‘n groter doelwit wat jou moet trek.
Wanneer jy lewensmoeg voel of oorweldig deur die lewe, is dit ‘ok’ vir sommige mense om vir ‘n oomblik terug te beweeg na hul gemakzone, om weer die visserman te word. Die gevaar is as jy daar vashaak en ander mense saam met jou aftrek omdat jý sukkel om aan te beweeg. Vir Petrus word daardie besluit die keerpunt. Nie omdat hy sy passie weer in visvang ontdek nie, maar omdat Jesus juis op sy laagtepunt op die toneel verskyn. Hy weet immers waarom Petrus sukkel om vorentoe te beweeg. Sy skuldlas hou om terug by die verlede. Uiteindelik waag Petrus dit om weer uit die boot te klim. “Kom eet”, nooi Jesus. Petrus laat toe dat die Here sy hart genees. Dit word die “stepping stone” na die rots wat hy bedoel was om te word.
Om met ‘n doel te leef is vir elkeen beskore. Niemand hoef net op te staan en te gaan slaap nie. Wanneer ons Jesus toelaat in ons lewens word ons gawes, Sy instrumente. Maak hy dit wat ons kan doen, meer, en lei hy ons in die rigting na dit waarvoor hy ons beplan het.
Ek het die Saterdagoggend met verlangende oë na die drawwers gekyk. Tog het ek in daardie oomblik besef dat ook ek bevoorreg was. In ‘n motor, oppad na ‘n werk, was ek vandag die instrument wat ander kon help.
Om te leef met ‘n doel begin daar waar jy is. Die tweede tree is om uit die boot te klim. Hy nooi ons om die lewe te proe. Saam met Jesus kan ons waag om voluit te leef.