‘n Ander pad uit

Die donkie het in die put geval. Die boer wou hom help maar die put was leeg en diep. Dit was tevergeefs. Toe besluit die boer dat die donkie eintlik al oud was en die put nutteloos. Hy kon dit maar netsowel toegooi en sodoende ‘n einde aan beide probleme maak. Hy’t ‘n paar handlangers gaan haal en die put begin toegooi. Op ‘n stadium het die donkie stiller geword. Die boer het in die put geloer. Tot sy verbasing was die donkie baie duideliker sigbaar. Wanneer die mense grond ingegooi het, het hy dit van sy lyf afgeskud en daarop gaan staan. Uiteindelik was dit hoog genoeg dat die donkie kon uitspring. Die pad uit, is dikwels anders as die pad in.

In dieselfde week wat Zantie Swanepoel die storie oor die donkie deel, vertel Angus Buchan die storie oor die put op sy plaas. Hoe hy jare gelede daar aangekom het en daar geen water was nie. Eendag het hy ‘n nat kol op die grond gesien. Hy het besluit om net daar te begin grawe. Dieper en dieper sonder om te weet of hul iets sou bereik. Skielik het water begin borrel. Hul het die fontein bereik! Tot vandag toe word die plaas deur daardie put van water voorsien. Soms moet jy aanhou grawe.

Op Radio Kaapse Kansel deel Wouter Snyman iets oor Noag wat my tref. Ons ken die verhaal goed, maar om ‘n ark in ‘n woestynwêreld te bou vir ‘n vloed as jy amper nog nooit reën gesien het hie, vra omtrent geloofsvertroue. Soms sê die Here eenvoudig: Hou aan bou, vertrou my!

Ek dink aan ons eie land met al sy dinge. Waar almal op ‘n manier ‘n pad uit soek. Weg van misdaad, beurtkrag en sukkelende leierskap. Dan word een van die plaaslike uitreikaksies die Sondag aan ons bekend gestel: ElizaYo. Hulle doel is om jongmense te help om vir ‘n toekoms te werk. Drie jongmanne deel hul getuienis. Jy hoor dankbaarheid in hul stemme en sien net glimlagte. Die spanleiers is ‘n paartjie van Nederland wat saam met mense uit ons gemeente werk. Terwyl ander wil vlug, kom hulle om te help bou. Aangrypend.

Soms maak die Here vreemde paaie oop. Gebruik hy mense wat jou te na wil kom, om juis die trap te voorsien na uitkoms. Soms wys Hy ‘n nat kol water en wys jou waar om te grou. Soms moet jy bou aan ‘n ark terwyl jy geen idee het hoe die toekoms gaan lyk nie.

Wanneer ek in die Woord delf word ek keer op keer bewus van God se goedheid en sy plan vir ons. Johannes 3:16 is vandag nog net so waar as duisend jaar gelede. “Want so lief het God die wêreld gehad….”

In die bekende boek, Man’s search for meaning, maak Victor Frankl die gevolgtrekking dat die sin van die lewe gevind word in elke oomblik waarin ons leef. Uiteindelik hang dinge nie af van jou situasie nie, maar jou houding daaroor.

As jy vandag in ‘n put sit, moet jy dalk op ‘n ander manier uitklim. As jy soek vir water moet jy dalk dieper grawe. Soms kos dit geloofsvertroue om aan te hou bou of jou denke te verander. As twee Nederlanders hiernatoe kan kom om te bou, is dit dalk ‘n uitnodiging vir ons. Die sendingveld is soms nader as wat ons dink.

Uiteindelik leef ons nóú. Vir ‘n rede. “Life is never made unbearable by circumstances, but only by lack of meaning and purpose.” Victor Frankl

Klim uit die put, grawe die boorgat of bou die ark. Lewe. “Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.” 2 Timoteus 1:7 . Dit stuur ons uit om ligdraers te wees, dit maak van ons pilare en verwag van ons om Sy getuies te wees.

Hý, is die ander pad uit.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap