Tydlyn
Vir my ma se 80ste verjaarsdag, het ek ‘n tydlyn opgestel. Nul tot tien, 11-20; 21-30….in dekades tot by 80. Daar was lief en leed. Goeie oomblikke maar ook hartseer tye. Tog was dit kosbaar om die genade- reis te kon neerpen.
Elke kleinkind het ‘n dekade gelees. Van die jongste tot die oudste. Elkeen se geboorte was deel van die goeie nuus op ouma se tydlyn. Onthou-vakansies is neergeskryf. Die lang rit tot by Etosha, die Julie-vakansie met twéé 5-dag staproetes in, Kgalagadi saam met beide gesinne en natuurlik die Covid-inperkingsvakansie waar ons saam vasgevang was in die strandhuis. Goeie herinneringe waaroor ons kon lag, met hier en daar tog ‘n traan in die oog.
Die dekade wat my die meeste tref, is die tydperk waar ek self tans staan. Ek skryf dit met die kind in my wat dit beleef het, maar as ‘n ma wat skielik aan die ander kant staan. Dit lees die langste, dalk omdat dit die meeste onthou-vakansies insluit. Dis nóú, besef ek met ‘n skok. Die tyd met my kinders steeds half en half in die nes. Onder ons sorg. Die tydperk waar ons herinneringe maak, nie net vir onsself nie, maar juis vir ons kinders. Onthou oomblikke, vir vandag, maar ook vir eendag.
‘n Paar weke gelede noem ‘n vriend van ons terloops dat sy dogter hom aan my laat dink het. Hy probeer verduidelik dat ek verby ‘n deurmekaar huis kan stap en ‘n blog kan gaan skryf. Net so kan sy dogter opstaan en uit haar deurmekaar kamer reguit na die klavier stap en musiek maak. Ek voel so ‘n bietjie beledig….
Wanneer ek ‘n week later saam met familie kuier, noem ek dit terloops aan hulle. My niggie gee ‘n ander perspektief. Sy sien dit as ‘n gawe dat ‘n mens kan regkry om tussen al die deurmekaar, steeds die mooi te kan bly raak sien. Ek besef dat dit wel ‘n bietjie soos my eie lewe is. Ek is pynlik daaroor dat die kinders hul beddens moet opmaak maar ek het lankal vrede gemaak dat ek nie alles in my lewe kan beheer nie. Ek is pligsgetrou by my werk, betyds by my kinders, met ‘n dagboek in my kop wat gedurig aangepas word om almal oral te hê. By my huis het ek geleer om soms ‘n bietjie ‘te let go’….dan kies ek om te gaan stap of draf bo ‘n regpaksessie. Êrens het ek besef, om te “multitask” het ek kos vir my siel nodig. Soms is die tyd by Jesus se voete nodiger as die huisskoonmaak vir gaste.
Wanneer ek dink aan die wêreld rondom ons besef ek dat ons soms net so verstrengel kan raak in al die chaos, nuusberigte en dinge wat ons tyd steel. Daar is baie wat ons moet doen maar soms moet ons kies waar om te los. Om die mooi te soek is ‘n keuse. As ek in die berge gaan stap en ander mense ontmoet wat saam die mooi waardeer, word my siel gevoed. As ek uit my gemaksone beweeg en ander se swaarkry sien, word my gee makliker en ek meer dankbaar vir wat ek het.
Terwyl ek my ma se tydlyn skryf, sien ek die groter prentjie raak. Dit wat saak maak is die saamkuiers, die saam lag en saam huil. Opstaan en weer begin. Terwyl ek skryf sit ek in die kleinste huisie op ‘n plaas in die hartjie van die Overberg. My grootste rykdom, my gesin, is rondom my. Dis reeds ‘n bietjie minder netjies as gister, maar die ketel kook, die son is besig om op te kom en ek weet dat hierdie huisie ‘n onthoustorie vir eendag gaan word. Ek koop dus in op hierdie tyd. Haal rustig asem en dank die Here vir stilword tye. Hy is gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde.
Ek sê dankie vir my ma van 80. Vir haar geloofs-voetspore wat aanhou hoop. Vir vriende wat my op my tone kan hou, maar ook vir die gawe wat ons ontvang, om te midde van alles wat deurmekaar is, steeds die mooi te kan soek. “…alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is… daarop moet julle, julle gedagtes rig….”Paulus se opdrag uit die gevangenis.
Dit wat ons nou asvanselfsprekend aanvaar, is dalk eendag een van die kosbare strepies op iemand se onthou-tydlyn.
“All we have to decide is what to do with the time given to us.” (uit LORD OF THE RINGS)