Vorentoe

‘n Paar jaar gelede het ons en die kinders Helderberg gaan uitstap. Die paadjie kronkel op en op. Op daardie stadium het ek gereeld in die berg gehardloop. Met die opstap het ek maar so nou en dan ‘n moeë handjie gevat en saamgetrek. Ons gesprek het beweeg na die lewe. Wat jou stoot en wat jou trek. Ek het verduidelik dat dit aanvanklik mense soos jou ouers, onderwysers en mentors is wat jou stoot. Soos jy egter ouer word, raak doelwitte belangrik om jou te trek, veral wanneer jy moeg word. Hulle wou weet wat my trek terwyl ek ophardloop. Die antwoord was maklik. Die uitsig daarbo.

In die week dink ek weer aan daardie gesprek. Dalk omdat my kinders by kruispaaie begin staan oor aktiwiteite en prioriteite, waar ek minder wil stoot en hul self moet begin ontdek wat hul trek. Miskien is dit egter ook omdat ek self saggies die halfeeu merk nader, dat ek oor my eie doelwitte en drome begin besin. Waar is ek en waarheen is ek oppad?

Dis belangrik om doelwitte en drome by ons kinders in te skerp. Tog beleef ek al hoe meer dat grootmense sukkel om vorentoe te beweeg. Hulle raak in ‘n maalkolk vasgevang en sukkel om los te kom. Wanneer die lewe ‘n konstante geveg raak vir oorlewing, staan mense moeg op en gaan slaap net so uitgeput. Hul drome lankal vergete.

In Psalm 139 skryf die digter dat die Here weet of ons sit of opstaan, wat ons dink, selfs waarheen ons wil vlug. Dan eindig hy met die versoek: “Deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad.” Om vorentoe te beweeg moet ‘n mens soms eers stop en kyk waar jy is en waarheen jy oppad is. Op 80 kyk jy dalk anders as op 50 of 20. Wanneer my pa noem dat hy al hoe meer moet rus as hy grassny, maar dat hy daardie geleentheid nie net gebruik om asem te skep nie, maar om terug te kyk en die gras te bewonder wat hy sopas gesny het, lees ek daarin ‘n dankbaarheid oor dit wat ‘n mens altyd asvanselfsprekend aanvaar het. Soms moet ons ons drome aanpas na een dag op ‘n slag oomblikke en ander kere groter treë neem om iets te wil bereik.

Dalk begin ons drome voete kry as ons anders daarna kyk en as ons dit opnuut voor die Vader kom neersit. As ons ons begeertes met Hom deel en dan begin beweeg. “Wys my die pad wat ek moet loop.” Om vorentoe te beweeg moet jy stap, draf, swem of fietsry. Jy kom nie vorentoe as jy op diesefde plek bly staan nie. Wanneer die oudste atleet, Johannes Mosehla, die Comrades wedloop op 81 jarige ouderdom voltooi, is sy raad aan ander: Hou aan beweeg. Drome bly net drome as jy op die rusbank bly. Iets kan net gebeur as jy dit ‘n naam gee.

Die uitsig vanaf Helderberg is dalk nie vir almal beskore nie en dis ook nie op almal se wenslysie nie. Tog was dit lekker dat die kinders die kruin bereik het en die uitsig kon waardeer. Dis in klein drome waar groot drome gebore word.

Vandag is dit lekker om te stop en te pause. Om opnuut my drome in God se hand te plaas. Dawid se gebed kry nuwe woorde uit my mond: Deurgrond my hart, sien tog my onrus raak, my begeertes en weggesteekte drome. Lei my uit die maalkolk van net bestaan en lei my op die beproefde pad. Amen

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories