Klipbakke

“Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat, en vir hulle waterbakke uit klip gekap, waterbakke wat gebars is en nie water hou nie.” Jeremia 2

Die vorige naweek gryp ons die geleentheid aan om ons kinders se interskole in die Oos-Kaap by te woon. Ons geniet die ‘roadtrip’ en word bederf deur ‘n skildery van heldergeel canola blomme, groen koringlande, blou lug en spierwit wolke. Dis lekker om ‘n oomblik stil te sit en net te beleef. Die Baai, soos my ma dit altyd genoem het, se rustigheid verras ons ook. Ons beleef die sonsopkoms oor die see en geniet dit om saam met sy inwoners op die promenade te stap.

By die skool is dit ‘n ander bedrywigheid. Oral is kinders besig om deel te neem. Daar word hard gespeel, gelag, gejuig, gesug en hande geklap. Lewe in oorvloed. Ook soos die Here dit wou hê.

Dis egter later die dag, terwyl ek na Paul Strydom se redenaarspraatjie luister, wat ek opnuut wonder oor die klipbakke wat ons voortdurend bou. Ons soeke na prestasie en erkenning. Ek ken sy moeilike verhaal. Hoe hy sy hoofseunbaadjie na ‘n week moes teruggee weens ‘n fout wat hy gemaak het. Hoe hy self stukkend gebreek is, met homself gestoei het en gewonder het hoe om op te staan. Die klipbak wat gebou is, saam met al sy drome daarin, het gebreek.

Hy kry dit stadig reg om die stukke op te tel en sy kop op te lig. Dan maak hy die ontdekking dat hy steeds dieselfde mens is as voor die verkiesing. ‘Jy is nie jou fout nie.’ Sy reis word deel van sy getuienis en verander in ‘n dramastuk, Slaansak, waarmee hy ander inspireer. Sy kernboodskap is dat jy steeds ‘n leier kan wees sonder ‘n baadjie of ‘n titel. Jy kan steeds ‘n verskil in mense se lewens maak sonder om op ‘n verhoog te staan. Hy raak in die proses deel van ‘n groter plan: Leierskapwerkwinkels in skole vir kinders sonder titels. Merkwaardig.

Ek kan nie help om te dink aan ons bedrywige lewens en konstante gejaag na wind nie. Die klipbakke van sukses en prestasie wat ons bou. Wanneer die water uitloop, bou ons nuwes. ‘n Groter huis, ander werk, bevordering, meer geld. Die soeke na geluk wat nooit regtig bevredig kan word solank ons die lewende water mis nie.

Ds Deon Els vertel hoe hy gevra is om ‘n bekende paartjie te trou. Teen ‘n goeie bedrag. Egter met ‘n voorwaarde. Hy mag oor alles praat, maar net nie Jesus se naam noem nie. Dis om water in ‘n gebreekte bak te gooi en te kyk hoe lank dit vat om uit te loop. Sonder die lewende water sal die dors nooit geles word nie. Dalk ook waar van ons huwelike. Hy kon nie die paartjie trou nie.

“Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees.” Sagaria 4. Uiteindelik die sleutel tot alles wat ons aanpak. Die stilte wat ons nodig het voor ons kan beweeg. Paul het ontdek dat hy nie ‘n baadjie nodig het om ‘n verskil te maak nie. Ons eie klipbakke wat ons bou kan ons nooit gelukkig maak nie. Ons sal altyd dors bly na iets beter.

Die natuurskoon op ons pad het my herinner aan die lewende water. Die Herder wat ons bring by water waar daar rus is. Daar is niks fout met besig wees, harde werk en vooruitgang nie, maar wanneer ons klipbakke daarvoor bou, gaan die water altyd uitloop en ons nooit goed genoeg voel of tevrede raak nie. Die Here nooi ons om ons begeertes vir Hom te gee. Om by sy voete stil te word en deur Sy krag dinge aan te pak. Dán raak ‘n baadjie irrelevant. Op Sy tyd sorg Hy vir die platvorm waar Hy jou kan gebruik. Nie uit ‘n klipbak wat maklik breek nie, maar omdat die lewende stroom deur jou vloei. Die groot verskil.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories