Stories

Die afgelope paar maande het ek dikwels verdwyn. Met ‘n boek in my hand is ek na ‘n ander wêreld geneem. Meestal het ek my bedagsaam gedra en eers as almal in die bed is, gewaag om die volgende hoofstuk te begin. Tog was daar tye, veral op ‘n naweek, waar ek myself eenvoudig nie kon help nie. Ek was besig met Lucinda Riley se reeks van The Seven Sisters. Die een boek het in die ander gevloei en my laat reis na Brazilië, Australië, Ierland, Pole en ander plekke. Ek was mal oor die geskiedenis agter die fiksie en verstom oor die skrywerstalent wat keer op keer verras het met nog ‘n wending in die storie.

Die frase in die storie wat my die meeste getref het, was ‘n bekende spreuk wat keer op keer herhaal is: “If you do not change direction, you may end up where you are going.” Ware woorde wat soms baie moed verg om te doen.

Op sy reis in hierdie reeks, het die jong seun verskeie mense ontmoet wat hom gehelp het om vorentoe te beweeg. Soms kom mense op jou pad sonder dat jy weet watter invloed ons op mekaar kan hê. Hoe wonderlik as jy kan terug kyk na ontmoetings wat jou lewe in ‘n ander rigting gestuur het.

Terwyl die storie ‘n fiksie verhaal was, het ek egter opnuut besef hoeveel stories rondom ons gebeur en hoe nodig ons het om dit te ontdek. Jannie Putter noem in ‘n oggend gedagte op Radio Kaapse kansel, dat dit so goed met jou gaan as wat jy bereid is om te sien. Wanneer jy dinge doelbewus begin waarneem, die mense om jou, dinge wat jy het, waar jy is…, raak jou oorvloed baie meer. As die gereelde karwag ‘n naam kry, raak hy iemand.

Wanneer ‘n vriendin in ons gemeenskap skielik nie meer kans sien vir die lewe nie, staan almal verslae. Ek onthou haar as kleurvol en vol energie. Tog het ons min van haar donker nagte geweet. Wees goed vir mekaar, is my wekroep aan my kinders. Almal soek aanvaarding. Wil êrens gehoor word. Soms is ‘n drukkie, ‘n sagte woord of mooi kompliment dalk net die medisyne wat iemand nodig het.

Die seun in die storie het dit reg gekry om goed te bly te midde van sy eie moeilike verhaal. Die wêreld wil ons aftrek maar die Here moedig ons aan om goed te bly doen. Stephan Joubert herinner ons dat daar ‘n verskil is tussen ‘being nice’ en ‘being good’. Soms is bedagsaam leef, bloot nie genoeg om ‘n verskil te maak nie.

Vandag is dit my gebed dat ons dit meer sal regkry om in Jesus se voetspore te stap. Dat ons die ‘ongesiende’ sal raak sien, die ‘ongehoorde’ sal hoor. Opnuut mekaar se stories sal ontdek. Met sagter oë sal kyk. Stadiger sal kritiseer. Mag ons strewe om goed te bly doen.

“Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na!” Dawid se opdrag in Psalm 34. Spreuke 4 sluit daarby aan: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.” Die rigting wat jy kies, bepaal die bestemming wat jy gaan bereik.

“This planet doesn’t need more “successful” people. The planet desperately needs more peacemakers, healers, restorers, storytellers, and lovers of all kinds.”

Om ‘n rukkie te verdwyn met ‘n boek in die hand, was kos vir my siel.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories