Klank van Vryheid
Uit verskeie oorde is aanbeveel dat ons die fliek, Sound of Freedom, moes gaan kyk. Ons het gehoor dat dit erg is om te sien, maar ook ‘n móét. In die middel van die week het ek my man saamgesleep om die fliek te gaan kyk. Dit was hartseer en ontstellend, juis omdat dit gebaseer was op ‘n ware verhaal. Kinders wat gewetenloos ontvoer en gesmokkel word vir ander se plesier. Vir my was dit moeilik om te beleef hoe boos mense kan wees. Harteloos. Eenvoudig sleg.
Die goeie ding van die fliek was die wete dat daar wel mense is wat omgee. Genoeg omgee om ‘n fliek te maak, om dinge te ontbloot. Mense wat hul lewens op die spel plaas om kinders te red. Die wêreld moet hiervan weet.
Dieselfde dag wat ons die fliek gaan kyk het, het ons jong katjie weggeraak. Vir mense wat nog nooit ‘kat-mense’ was nie, was dit ‘n vreemde gevoel om so angstig oor ‘n katjie te kon voel. Hy het so vinnig in ons harte geklim en deel geraak van ons makro-gesin. Ons het benoud gaan soek in die groot bome agter die huis, om die blok gestap en op buurtgroepies ‘n foto van hom geplaas. Ons het angstig gewonder of hy oor die grootpad gehardloop het of dalk in ‘n erf met groot honde beland het. Al wat ons kon doen, was om te bid dat Boots veilig sou terug keer. Terwyl ek in die fliek gesit het, het ek skuldig gedink hoe bekommerd ons oor ‘n katjie van ‘n paar maande was. Híér was dit kinders van ouers wat weggelok is. Wat deur intense trauma gaan, en in baie gevalle, nooit gevind word nie. Die kontras kon nie groter wees nie. My hart wou breek. Vir die kinders, maar ook vir die ouers.
Wanneer Tim Ballard in die fliek gevra word hoekom hy soveel moeite doen om hierdie kinders te probeer opspoor, is sy antwoord treffend: “God’s children are not for sale.”
Die aanklag tref ons ook. Wat maak ons met God se kinders? Die wat God aan ons toevertrou het, maar ook hulle in ons buitekring. Dit pas ons om nie dinge raak te sien nie, om nie betrokke te raak nie….Dis soms makliker in die worshipband waar ons liedjies kan sing waarvan ons hou, as om buite ‘n verskil te maak. Niemand is lus om sy kop in die bynes te druk nie. Die aanklag strek egter verder: na ‘n ander realiteit selfs nog nader aan ons. Iets wat nie net ons kinders wil steel nie, maar hulle geloof. Die digitale wêreld en sy gevolge.
Dominee Deon Els raak die kern van die probleem aan. Nie net steel die digitale wêreld ons tyd nie, maar dit verander ons denke. Ons soek en ‘scroll’ na die dinge waarvan óns hou. Dis jou musiek, jóú sport, jóú vriende. Dit raak jou ‘comfort-zone’ wanneer die lewe rof raak daarbuite. Jou stille dwelm. Jy pas dit aan om by jou wêreld te pas. Daarom sukkel ons godsdiens. Om God se wil te soek, raak vreemd. Ons soek versadiging in ons eie belange. Ons kweek gewoontes waar God se woord al hoe minder plek vind in ons doen en late. Dan kom die vraag. Watter dinge kry ons in plek sodat ons kinders se kinders se kinders nog steeds sal glo, te midde van die verleidelike digitale era? Wat plant ons sodat die volgende generasies ook van daardie saadjies sal kry? Gewoontes moet gekweek word. Ons kinders sukkel met die Bybel en hul sukkel om stil te word. Wat gaan hulle vir hul kinders leer?
Op ‘n manier raak die wêreld al hoe gevaarliker en het dit niks met misdaad te doen nie. Die gevaar kom in ons huise omdat ons afgestomp raak van dit wat werklik belangrik is.
Wat ons in plek moet kry, is tyd saam met God. Gewoontes om Sy wil te soek. Om te honger na sy woord. Hier ín die wêreld waar ons bly. Ons moet wakker wees en ons oë oopmaak. God’s children are not for sale. Nie vir indikate of vir die digitale wêreld nie. Ons verantwoordelikheid om saadjies te saai gaan nie net oor ons kinders of hulle kinders nie, maar die generasies na hulle.
Twee uur in die nag het Boots teruggekeer. Uiteindelik kon ek rustig slaap. In die fliek is kinders gered. Genadiglik. Sound of freedom is die klank van hulle wat weer lag en speel. Sorgloos. Soos God dit bedoel het.
Kinders is aan ons toevertrou. “Laat die kindertjies na my toe kom en moet hul nie verhinder nie.” Die klank van vryheid.
.