Prysuitdeling

Dis weer daardie tyd van die jaar. Die tyd van prysuitdelings. Waar sommige ouers met die witbrood onder die arm sug oor hoe lank hul vannaand gaan sit. Dit terwyl ander maar net terloops hoor van die prysuitdeling. Stilweg stoei met hul kind wie se pogings nooit goed genoeg vir ‘n verhoog sal wees nie.

Ek mis die jong man se gesig by die akademiese prysuitdeling. Hy blom by die kultuuraand. Neem die een prys na die ander. Hy kan praat en het die vermoë om met baie tipe kinders oor die weg te kom. Ek het geen twyfel dat hy dit nog ver in die lewe gaan bring nie. Sonder ‘n akademiese balkie.

Kyk ek na my eie huis is dit soms moeiliker vir ouma en oupa om hul kleinkinders se prestasies te hanteer. Veral as die een met meer toekennings huis toe kom. Ek het al geleer om elkeen individueel te prys en verder maak ons min bohaai oor medaljes en trofees. Die grootste vreugde is die aand wat jy dit ontvang, daarna beland dit ook maar net op die klavier.

Dis lekker as harde werk beloon word en as ‘n mens erkenning kry vir ure wat jy ingesit het. Tog is dit soms die een wat ongevraag die skottelgoed begin was, aanhou probeer en ‘n omgeehart wys, wat die hartsmedalje kry.

Wanneer die eienaar terug keer van sy reis is die eintlike vraag nie hoeveel jy gemaak het nie, maar wat jy gedoen het met dit wat jy gekry het. Dalk is die wekroep dat ons ons minder met ander moet vergelyk, en eerder moet kyk na die gawes en talente wat elkeen gekry het. Wat maak jy daarmee? Daag jy op, neem jy deel en hou jy aan probeer? Uiteindelik lê die grootste prys in die genot, die vriendskappe en al die groei geleenthede. Die beker is net die kersie op die koek.

Prysuitdelings is dankbare geleenthede, maar ‘devine’ jou nie. Wat jy ontvang het, is genade. Wat jy daarmee doen, is die toets. Uiteindelik gaan ons almal eendag voor die groot Regter verskyn. Mag ons grootste begeerte wees om tot Sy eer te leef. Mag wat ek sê en doen vir U aanneemlik wees.

Wanneer jy ‘n waterbottel koop by ‘n kruidenierswinkel, ‘n goeie restaurant of by die lughawe, gaan die prys beslis verskil. In God se oë is jy duur gekoop. Hy bepaal jou waarde.

Sefanje 3:17 wys iets van God se hart. “Hy is vol vreugde oor jou. Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.” Dit is die ware beloning. Om God se guns oor jou lewe te ervaar. Jou waarde in Hom te vind.

Mag ons ons kinders rig na die ware prysuitdeling. Om die Kroon te ontvang as Sy kind. Dis waaroor die lewe uiteindelik gaan!

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories