Groen, goud en grys

Ek het haar by die uitgang gekry. Haar styf vasgedruk. Die trane het oor my en haar wange gerol. “Ek is jammer,” het sy sag geprewel. “Ek het ‘n fout gemaak.” Ek het nie geweet wat om te antwoord nie. Toe onthou ek die wyse woorde van ‘n jong man na sy eie seerkry: “Jy het ‘n fout gemaak, maar jy is nie jou fout nie.” Die arbeidsman se beslissing was finaal. Sy het haar werk verloor. Vir ‘n bord lensiesop.

Ek dink aan die oorlog tussen Israel en Palestina. Wie is reg en wie is verkeerd? Die wêreld kies kant, maar eintlik verloor almal. Tussen swart en wit is die kleur dalk eerder grys. Want tussen al die rommel aan beide kante is daar ouers en kinders. Mense wat rou en ander wat vlug. Slagoffers van ‘n politieke magspel buite hul beheer.

Wat doen jy as jy skielik jou werk verloor het? Jy verloor jou doel, jou rede om op te staan. Jou menswaardigheid, jou inkomste en kersfees hamper. Skielik was jy weer net wasgoed by die huis. Is die kos te min en die skuld te veel. My hart het vir haar gebreek.

Wanneer die Springbokke wen, word elke beslissing onder die vergrootglas gesit. Asof niemand kan, of wil aanvaar dat ons regverdig kan wen nie. Hulle verwys na die oënskynlike hoop wat die spelers dra van ‘n nasie wat op hul steun. Hoe sal die Europese unies ooit kan verstaan van al die uitdagings wat ons te bowe moet kom voor jy net aan ‘n rugbybal begin raak? Wanneer groen en goud die swart en wit van die verlede vervang, word wonderwerke gebore. Dan kyk ons immers sáám. Raak Ox en Pollard almal se hero. Huil ons saam as Mapimpi nie meer kan speel nie. Die wêreld sal nooit verstaan dat grys ‘n sterk kleur in ons land is nie. Dat ons sukkel, opstaan en weer probeer.

Wanneer die hoofmeisie van ons hoërskool haar afskeid boodskap lewer vertel sy iets van haar grootwordjare. Dat haar ma dood is en sy by haar ouma en oupa bly. In die Township….Sy was die eerste kind in haar familie wat na ‘n goeie skool kon gaan. Sy stap uit as ‘n ander mens. Iemand wat die wêreld in die oë kan kyk. Wat kon groei tot haar volle potensiaal. “Ken jy sulke kinders?”, wil ek dan by die Iere, Skotte en Franse weet. Verstaan jy van miracles en hoop wat almal soek?

Met die Springbokke se amper verloor teen Engeland, het ek geweet dat dit nie “magic” is wat hul kort nie, maar iets spesiaals. Na die ongelooflike wen het ek besef dit was in die lang kantlyn skop, die sterk skrum, die kans vat vir die doelskop, die geloof in Pollard en die werksetiek van die spelers op die einde, waar iets spesiaals gebore is. Omdat die nasie se oë op jou is. Omdat almal in groen en goud vir ‘n oomblik vergeet van wit, swart en al die grysheid tussenin.

Ek het nie antwoorde vir Israel en Gaza nie en ek verstaan ook nie alles nie. Ek kon ook nie verhelp dat die vroutjie haar werk verloor het nie. Ek het die redes verstaan, maar tog gewens dat grys die beslissing kon wees. Die kleur van 2de kanse.

“When the world is dark, you fight it with light.” Jy hoef nie jou fout te bly nie. Mag ons dit regkry om ligdraers te word. Minder kantkiesers en eerder rigtingwysers na die kruis. By Sý voete is daar troos en hoop. Veral vir hulle wat weet dat hul ‘n fout gemaak het, vir hulle wat alles verloor het en hulle wat hartseer is. Vir mense in Palestina en Israel.

Swart, wit en grys. Drie kleure met ‘n storie, maar in ons land is groen en goud die kleure wat ‘n nasie saam laat sing. Mag die Bokke wen, maar bo alles, mag hoop in ons land die helder lig bly.

In Hom is ons hoop. Hy, ons suiderkruis.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories