Wat jou antwoord vertel

“Is die pad al oop?” was die vraag. Eenvoudig. Almal het geweet daar was baie skade na die reën en almal het geweet dat die pad ‘n ruk sou toe wees. Tog was dit ‘n billike vraag. Veral as jy nie daar bly nie of nie gereeld op sosiale media is nie. Die antwoorde het my verstom. Sommige sarkasties, ander vurig, baie vererg. Onnodig. Al wat sy wou hoor was ‘n ja of nee en dalk ‘n wanneer….

Waarom al die onnodige antwoorde? Wat broei in jou hart wanneer jy soveel bitterheid en negatiwiteit ten toon stel? Hoe maklik het dit tog nie geword om gif te saai nie. Om te sê net wat jy wil, vir wie jy wil. Wanneer ek in die koerant lees van die hoeveelheid moorde wat elke dag gepleeg word, kan ek nie help om te dink aan al die dolksteke van woorde wat nie op statistieke verskyn nie. Dan wys ons vingers na die moordenaars in die tronk, maar die een agter die skerm, die een met die pen in die hand wat die knoppies druk, sit onskuldig met sy beker koffie in die hand. Botter kan nie in sy bitter mond smelt nie. Die lewe met sy dubbele standaarde.

Ek lees die debat oor die belangrikheid van wat jy glo teenoor hoe jy leef. Albei groepe het goeie standpunte. Tog kom maak Jesus dinge eintlik eenvoudig. ‘Aan julle vrugte word julle geken.’ Wat die hart van vol is, loop die mond van oor. In die boek Judas word daar gewaarsku teen mense in die gemeente wat soos wolke is wat geen reën bring nie, bome is wat selfs in die laat seisoen geen vrugte het nie. (Vers 12) . “Dis die mense wat gedurig kla en altyd ontevrede is met hul lot. Wat net leef volgens hul eie begeertes, groot praat en vleiende dinge van mense sê om daaruit voordeel te trek.” (Vers 16)

Die prediker gee goeie raad vir jongmense. “Hou kommer uit jou hart en vermy wat jou liggaam kan kwaad doen… want ook die jeug en die jonkheid kom tot niks.” Hy weet dat mense later ontnugter word deur die lewe. Dat drome vergete raak en mense se sorge toeneem. Dis dan wat jy op die stoep beland en sukkel om die lig te sien. Hou kommer uit jou hart. Vermy wat die liggaam kan kwaad doen. In mediese terme klink dit na voorkomende genesing om jou liggaam en hart te beskerm.

In die kosbare storie van die ou tannie wat geskuif word na ‘n nuwe kamer in die versorgingsoord, wil die suster nog verduidelik hoe dit gaan lyk. Dan kyk die tannie stralend op en sê. “It is beautiful, thank you!” Sy verduidelik dan dat sy lankal besluit het dat sy daarvan gaan hou. Wat ‘n wonderlike plek sal dit tog nie wees as almal met daardie ingesteldheid kan ouer word nie. Om met lig te lewe moet jy eers die lig in jou eie lewe aanskakel.

In Ds Paul se preek oor dankbaarheid, verplaas hy die fokus van dit wat God vir jou gedoen het na dit wat Hy besig is om rondom jou te doen. Dan beweeg jy weg van ‘n selfgesentreerde lewe na ‘n Gods-ingestelde lewe. Wanneer ons God se hand in ander mense begin raaksien, raak ons woorde en dade anders ingestel.

As ons minder moorde in ons land wil sien, moet ons dalk ons eie dolke eerste neersit. Woorde wat gif saai, wat afbreek en vernietig. Mag ons stilbly wanneer ons niks opbouend kan toevoeg nie, mag ons met wysheid praat waar nodig en mag ons eerste ons eie hart verander voor ons ander wil verander.

Die Clarence drive pad na Kleinmond was nog nie oop nie. Gelukkig was daar mense wat eenvoudig kon antwoord.

“Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.” 1 Petrus 3:15. Soms is die manier hoe ons ander antwoord, die eerste getuienis van dit wat ons glo.

Gelukkig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. Mattheus 5:9

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories