Die lewe in kleur
Daar was blou bome in die stadsaal. Prente van kinders met vlieërs en hoepels. Lugbalonne en windpompe, vollas en mense op fietse. Reuse potlode en ‘n penneblikkie teen die muur. Sonneblomme en landerye. Alles in helder kleure. Geel, rooi en groen. Porchie, wat die kuns vervolmaak het om die lewe in te kleur en ander te inspireer. Sy uitstalling vir sy 60ste verjaarsdag word ‘n fees. Ons stap daar uit met ‘n glimlag en verkwikte siele. Hoe nodig het ons tog nie om mekaar se lewe in te kleur nie!
Jesus het gesê dat Hy gekom het om vir ons die lewe te gee, in oorvloed. Porchie se prente laat my daaraan dink. Kleurvol, energiek. En waarom mag bome nie blou ook wees nie?
Jare gelede het my oudste as ‘n klein dogtertjie ewe bont uit die kamer gekom. Rooi, pers en pienk. Alles kleure wat ek geleer is, nie bymekaar hoort nie. Jy trek tog nie pienk en rooi saam aan nie! Daar was geen begrip in haar ogies vir grootmense se onkunde nie. ‘n Paar dae later het ons buite gaan stap. Die bosveldtuine was op hul mooiste. Ons het die groot bougainvillea bos bewonder. Skielik het sy uitgeroep. Kyk mamma, rooi, pers en pienk! Alles bymekaar. My oë het oopgegaan. Saam was dit die mooiste prentjie! Ons met al ons idees van wat mag, en wat nie.
In die week vertel Angus Buchan hoe ‘n goeie vriend hom moes leer om tyd te maak vir die mooi in die lewe: “Stop and smell the roses.” Ons hardloop so verby alles dat ons dikwels die mooi mis. Ek dink dis een van die redes hoekom ek dit so geniet om buite te hardloop. Ek neem kleure in en sien dinge raak wat ek uit die motor mis. Ek kies eerder ‘n bult vir ‘n mooi roete, as ‘n lang vervelige pad. Ek kies die woudpaadjie waar ek kan stop vir die kappertjies en die nuwe geel blommetjies kan bewonder. Ons stop om die berge te bewonder en kry terselfde tyd ons asem terug. Dis lewe in oorvloed. Baie meer waarde as miljoene in die bank.
Wanneer laas het jy opgekyk en prentjies in wolke gesoek? Een van my kinders se kosbaarste onthou tye was wanneer ons in die someraande op die trampolien gaan lê het en opgekyk het na bo. Eers vir die wolke en later vir sterre wat een vir een verskyn. Ek sou dan storie lees terwyl ons later onder kombersies inkruip. Ek lag toe ek gister onverwags die hondjie raaksien wat heerlik op sy rug in die hemelruim lê. Soms lê die mooi in die lewe reg bo ons koppe.
Terwyl so baie dinge rondom ons donker is en negatiewe nuus oorheers, is daar steeds veldblomme wat opkom, wolkeprag en die son wat sak. Lewe in kleur. Lewe in oorvloed. Porchie het geleer om dit kleurvol vas te vang. Mag ons vandag die kleur terug bring vir ons kinders en mense rondom ons. Pienk, rooi en pers. Blou bome. ‘n Rooi windpomp. Onbeperk mooi. Die lewe wat Hy verniet vir ons gee.