Hou net aan

Na vier jaar van herstel na beserings, hardloop ek uiteindelik weer ‘n half marathon. Ek is dankbaar. Halfpad is ek egter moeg. Ek is duidelik bietjie ouer as met my laaste wedloop en kry swaarder as gewoonlik. Ek begin sommer stap toe die effense opdraende nie platter wil word nie. Ongewoon vir my. Gelukkig is dit mooi rondom my en is dit ‘n goeie tyd om die berge en wingerde te bewonder. Wat maak dit tog saak hoe lank ek dit hardloop, troos ek my. Skielik skiet die frase in my kop: KBO. Dit laat my glimlag en onthou….

Tydens die Tweede wêreld oorlog, het Winsten Churchill sy troepe daagliks gemotiveer met die letters KBO. Elke telefoongesprek is daarmee afgesluit. Spioene het dit gehoor en probeer ontsyfer. Intussen het die Britte gemotiveerd voortbeweeg en uiteindelik gehelp om die oorlog teen Duitsland te wen. Die leuse was kort en kragtig. KBO was hul motivering: Keep buggering on!

In ‘n tyd van die jaar waar baie mense moeg en gefrustreerd voel, kom die letters ook na vore. Hou net ‘n bietjie uit. ‘n Paar dae na my wedloop, lees ek ‘n boodskap op Angus Buchan se webblad. Hy gee dieselfde raad maar met ‘n wenk…” We need to keep moving forward and trust the Lord, and He will see you through.” Die boodskap is skielik duideliker vir my. Dis KBO + vertrou op die Here = Hy sal jou daardeur lei.

Baie keer as ek sukkel om te slaap, vra ek myself wat alles pla. Soms is dit finansies, ‘n pasient waaroor ek bekommerd is, iets in my huwelik of iets van die kinders. Dan laat ek myself toe om dit een vir een te noem en dan by die Vader se skoot neer te sit. Wanneer al my pakkies afgelaai is, kan ek uiteindelik rustig verder slaap. Soms moet ons los maak om makliker te kan KBO.

Jannie Putter noem in sy weeklikse gesprek, dat dankbaarheid die ‘antidote’ is van ‘n depressiewe gemoed. Daar is baie waarheid in. Wanneer mens leer om te sing in jou trane, raak jou hart ligter en die opdraendes makliker.

Uiteindelik is daar baie raad hoe om ‘n wedloop aan te pak, maar is daar net een manier hoe om dit klaar te maak: Tree vir tree.

Ek het my half marathon voltooi. Darem in ‘n ‘decent’ tyd. “So nice when you stop”, soos my pa sou sê. Die medalje was om die nek, die bene bietjie lam, maar die hart tevrede. KBO was die leuse, maar die beste raad is KBOWG: Keep buggering on with God. Die uitkoms is dan verseker. Deur Hom is ons tot alles in staat!

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories