Agter die skerms
Hy was ‘n Amerikaanse vegvliënier in Viëtnam wat verskeie missies voltooi het. Eendag egter, is sy vliegtuig deur ‘n missiel getref en moes hy noodgedwonge uitspring en sy valskerm ontplooi. Hy is op die grond gevange geneem en het 6 jaar in ‘n Viëtnamese tronk spandeer. Hy het dit oorleef en is uiteindelik vrygelaat.
Op sy lewenspaadjie het hy baie dinge geleer, maar dit was ‘n ongewone ontmoeting wat die grootste indruk op hom gemaak het. Dit het gebeur na sy vrylating, toe hy en sy vrou een dag in ‘n restaurant gesit het. ‘n Onbekende man het hom onverwags geëien. “Jy is die vliënier wie se vliegtuig afgeskiet is!” Die vlieënier was baie verbaas dat die man hom erken het. Op sy vraag hoe hy dit geweet het, het sy antwoord hom verstom: “Ek was die man wat jou valskerm gepak het.”
Die twee mans het bladgeskud terwyl die ‘pakker’ terloops opgemerk het: “Ek veronderstel dit het gewerk!”
Charles Plumb kon daardie nag nie slaap nie. Hy kon nie onthou dat hy ooit die man raakgesien het nie. Hulle paaie het waarskynlik daagliks gekruis. Hy, die vegvlieënier op die skip, en die man in gewone uniform wat daagliks, agter die skerms, by ‘n lang tafel, valskerms moes vou om ‘n onbekende se lewe te red.
Nooit het hy hom gegroet of gevra hoe dit gaan nie. Hy was nie eens bewus van sy bestaan nie.
Sy vraag aan homself en ander daardie dag was: Wie is jou valskermpakker? Wie is die persone wat gesorg het dat jy jou bestemming bereik het?
Wanneer Zantie Swanepoel hierdie storie een oggend op Radio Kaapse Kansel vertel, laat dit my ‘n oomblik ‘pause’. Soos die jaar ten einde loop raak dit ‘n goeie tyd om dieper te kyk. Agter die skerms van ons almal se lewens, was daar mense wat die valskerms gepak het. Soms was dit sleurwerkies, ander kere rigtingwysers, mense wat met woorde bemoedig het, ander wat ons opgetrek het. Om te kon spring, om die grond te bereik, die jaar te kon voltooi, het ons “pakkers” nodig gehad.
Ek dink aan my kinders se onderwysers. Sommige het ekstra veiligheidsnette ingewerk. Seker gemaak dat hul matriekulant veilig en sag sou land. Ek dink aan die werknemer wat daagliks gesorg het dat die werksplek in orde was. Die regte hoeveelheid pille in ‘n pakkie. Die badkamer netjies en die beddens skoon oorgetrek. Die ontvangsdame wat gesorg het dat jou dagboek uitwerk en jou administrasie op datum is.
In die jaar was daar soveel pakkers agter my rug. Stories van bemoediging en versies van hoop wat ek kon optel. Ouers se gebede. ‘n Gesin wat ondersteun. Drafmaats wat motiveer. Vandag sê ek dankie….
Die uittredende skoolhoof van die laerskool seën my met ‘n wenk. Hy noem dat hy twee groot ontdekkings in sy lewe gemaak het: Dat ons as mens met ‘n doel op aarde geplaas is, en tweedens, as jy kan ontdek dat jy jou doel leef. Daardie dag was die laaste dag wat hy gewerk het. Daarna het hy sy passie geleef.
Soms moet ons die ander skoen aantrek. Dalk besef dat ons ook besig is om ander mense se valskerms te pak. Dat die sleurtakies wat so lastig raak tog help dat die wiele vlot loop en dinge werk.
Mag ons moed skep in wat ons doen en mag ons krediet gee aan hulle wat agter die skerms werk.
Charles Plumb se lewe het verander toe hy besef het dat sy lewe gered is omdat ‘n onbekende man sy werk deeglik gedoen het.
Werksetiek begin met ‘n ingesteldheid. Paulus se raad…”Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie…” Kolossense 3:23.
Dan word werk selfs meer as ‘n passie. Dit word God se instrument. Die valskerm wat lewens red.